Mandala Kuns gaan bekoor by Museum Galery

Die woord Mandala kom van die antieke Sanskrit wat ‘sirkel’ of ‘middel’ beteken.

Potchefstroom Museum bied van 4 April tot 4 Mei die Dotmandaize Dot Art en Mandala Kunsuitstalling aan. Die opening vind op 4 April om 18:00 in die Galery plaas.

Charles Oosthuizen en Maryke van Rensburg is opgewonde oor die eerste geleentheid waar hulle ‘n duo-uitstalling in samewerking met die museum kan aanbied. Die Dotmandaize Uitstalling vind plaas by die Museum se Galery op die hoek van Sol Plaatjie- en Wolmaransstrate.

“In die nimmereindigende sirkels van die oeroue Mandala Kuns het ons mekaar gevind en in die kolle van Dot Art het ons mekaar se spore in ons harte vasgekuns,” verklaar die kunstenaarspaar van Klerksdorp hulle liefde aan mekaar en aan kuns.

Die woord Mandala kom van die antieke Sanskrit wat ‘sirkel’ of ‘middel’ beteken. Mandala’s word vanaf `n sentrale punt geteken en word omring deur die mooiste patrone en kleure wat gekonnekteer en onderling verwant is. Die sirkel simboliseer dat die lewe, hier op aarde, voortgesit word in die hiernamaals en dat alles slegs deel is van die natuur, die wêreld en die heelal.

Charles fokus op Mandala’s en het hierdie kunsvorm vervolmaak in die afgelope jare vandat hy sy eerste inkleurpen opgetel het.

Intussen pryk sy kunswerke oral in sy vriende en kollegas se huise waar mense hulle kan verkneukel aan die uitbundige kleur wat dit aan hulle huise en kantore verskaf.

Dot Art of Kolletjies Kuns is `n verlenging van Mandala’s waar, in plaas van om die patrone met `n kwas of pen in te kleur, word beweging geskep met die plaas van kolle binne die patroon om sodoende `n ‘Dot Art Mandala’ te produseer.

Neurografiese kuns is `n eenvoudiger manier om met die onderbewuste gedeelte van die brein te werk deur middel van tekeninge. Hierdie kreatiewe metode stimuleer nuwe neurale weë deur kuns met die binnenste siel se gedagte gange te kombineer. As kunstenaar, besef Maryke dat hierdie drie tipes kuns saamgevoeg kan word as `n holistiese benadering om uiting te gee aan die mens se angs, stres en vrese – veral in hierdie tyd – deur vry vloeiende lyne te teken en dan, binne `n spesifieke algoritme, te transformeer tot pragtige kuns. Maryke bied ook dan Dot Art Klasse aan tydens hierdie uitstalling.

Charles en Maryke glo ook dat kuns, in al sy vorme, toeganklik moet wees vir alle mense. Daarom bedryf hulle ‘KRYK’ in Klerksdorp wat vier keer per jaar `n al fresco ‘Kuns met vriende’ kunsdag aanbied, waar kunstenaars soos skilders, sangers en dansers uitgenooi word om hulself aan die publiek bekend te stel.

Toegang tot die uitstalling en die opening op 6 April om 18:00 is gratis. Navrae kan gerig word aan die Museum (Miems Lamprecht) by 082 397 9367 of Maryke by 062 439 5098.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version