NewsNews

Buurvrou ook deur honde in Kampstraat gebyt – sukkel nog met beserings

“Omdat my spiere beseer is, kan dit lank neem. Die bytmerk aan my bobeen was tot op die been. So, spiere wat seergekry het gaan lank neem om te herstel.”

Die eksterne bytmerke, interne wonde en psigologiese trauma is die letsels wat Chantelle Crous nog steeds saam met haar dra nadat sy in Desember verlede jaar in Kampstraat deur honde gebyt is.

Volgens Crous het dieselfde twee honde (bullterrier en pitbull-kruising) wat prof. Riaan Rheeder Saterdag, 12 Februarie in die gesig gebyt het, haar ook aangeval.

Die bytmerke en swelling is duidelik sigbaar drie dae na die voorval. Sowat twee maande na die voorval sukkel Crous steeds met letsels. Foto’s: Verskaf

Sy het op die dag van die aanval, 7 Desember, nie ‘n saak by die polisie teen die eienaar van die honde en haar buurman, mnr. Ivan Kruger, aanhangig gemaak nie.

Dit was juis omdat Kruger genoem het dat sy honde nie mense byt nie. Toe sy uitvind van prof. Rheeder, ‘n hoogleraar aan die fakulteit Teologie aan die NWU se voorval, het sy besluit om ook ‘n klag by die polisie te lê, aangesien daar meer as een voorval is waar hierdie honde mense gebyt het.

Die klag wat die polisie ondersoek handel oor die versuim om diere in ‘n geslote area te hou. Crous is aan haar bobeen en op haar arm gebyt. Hierdie byt het haar nie net uitwendig skade berokken nie.

Hoe die bytmerke twee weke na die byt gelyk het.

Sy noem dat haar arm inwendig seergekry het en haar beenspier ook skade opgedoen het. Sy moet nou nog pynmedikasie drink en ook af en toe ‘n stut vir haar arm dra omdat sy nie gewig op haar gewrig kan plaas nie.

Chantelle Crous se bobeen soos dit op die dag van die aanval gelyk het.

“Ek sukkel nou nog met my arm omdat dit inwendig seergekry het. “Omdat my spiere beseer is, kan dit lank neem. Die bytmerk aan my bobeen was tot op die been. So, spiere wat seergekry het gaan lank neem om te herstel,” noem sy.

In die Wysigingswet op Diereaangeleenthede van 1993 is daar aanwysings vasgestel rondom diere wat mense beseer. Enige persoon wie se nalatigheid veroorsaak dat ‘n dier ‘n besering aan ‘n ander persoon veroorsaak, aan ‘n misdryf skuldig is en by skuldigbevinding met ‘n boete of gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens twee jaar gestraf kan word.

Wanneer ‘n persoon skuldig bevind word kan die dier ook verwyder word of daar kan besluit word dat hierdie persoon ook vir ‘n sekere tydperk nie ‘n dier met dieselfde ras mag besit of onder sy toesig mag wees nie.

Die Herald het die eienaar van die twee honde wat prof. Rheeder en vir Crous aangeval het, mnr. Ivan Kruger, gekontak maar kon teen druktyd geen kommentaar verkry nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button