’n Nuwe lewe na ’n nieroorplanting

“Dit is sekerlik die grootste geskenk wat ek nog ontvang het.” So sê Gerhard van Tonder na sy suksesvolle nieroorplanting op 6 Oktober vanjaar.

“Dit is sekerlik die grootste geskenk wat ek nog ontvang het.” So sê Gerhard van Tonder na sy suksesvolle nieroorplanting op 6 Oktober vanjaar. Sy lewe het handomkeer verander toe hy die telefoonoproep vroegoggend ontvang het terwyl hy besig was met dialise.

Sy orgaankoördineerder het hom laat weet dat hy dadelik moet pak en Milpark Hospitaal in Johannesburg toe moet gaan, want hulle het ‘n nier gekry wat 91% met sy weefseltipe pas.

Gerhard van Tonder in die hospitaal na die nieroorplanting.

“Dit was so onverwags. Jy het nie eens tyd om jou emosioneel vir so ‘n groot operasie voor te berei nie. Ek het nie geweet wie die dokters was nie. Jy het nie regtig ‘n ander keuse as om jouself net aan die proses oor te gee nie,” vertel Gerhard.

Hy het eers op 26-jarige ouderdom vir die eerste keer nierprobleme gekry. “Dit het begin met erge hoofpyn waarmee ek in die oggend opgestaan en in die aand gaan slaap het. Dokters het eers bloedtoetse gedoen en later ‘n nierbiopsie waar hulle vasgestel het sy een nier baie kleiner as sy ander een is. ‘n Maand na sy diagnose het hy met dialise begin. Pasiënte wie se niere nie reg funksioneer nie, se bloed moet gesuiwer word van ureum, skadelike afvalstowwe en oortollige vloeistowwe. Sonder dialises verdrink nierpasiënte in hul liggaamsvloeistowwe.

Hemodialise wat Gerhard ontvang het, is ‘n lang proses. Bloed vloei uit die liggaam en sirkuleer deur die dialisemasjien – slegs 250 ml bloed is op ‘n gegewe tyd buite die liggaam. Die bloed word op die osmose-beginsel deur die masjien gefiltreer en van afvalstowwe en water gesuiwer voordat dit na die are terugvloei. Dit is ‘n moeisame proses en Gerhard moes gewoond raak om drie tot vier keer ‘n week vir vier uur op ‘n slag dialise te ontvang.

Sy lewe was nie meer dieselfde nie. Toe hy op universiteit was, het hy vir die NWU rugby gespeel. Hy kon skielik nie meer kontaksport of gholf speel nie.

Na meer as sewe jaar het sy dokters besluit dat hy ‘n nieroorplanting moet kry. Gerhard se pa, Chris, het besluit om een van sy niere aan sy seun te skenk, maar in Maart met die aankondiging van die Covid-19-pandemie is alle orgaanoorplantings van lewende skenkers gestaak. Hy is op ‘n kadawerlys geplaas en moes geduldig wag totdat hy ‘n kadawer se orgaan kon ontvang. “Dit het gevoel asof my droom verpletter word. Mens verloor moed en onttrek jou van die wêreld. Jy is konstant moeg en dit het gevoel asof my lewe net om my werk en dialises draai,” vertel Gerhard.

As hy nou terugdink, was dié besluit eintlik ‘n bedekte seën. “Daar is altyd groot risiko’s aan ‘n orgaanoorplanting verbonde. “Daar was ‘n kans dat my pa dalk nie die operasie sou maak nie. Om ‘n orgaan van ‘n lewende skenker te kry, is altyd ‘n risiko.

Die nier wat Gerhard gekry het, was van ‘n 20-jarige seun wat in ‘n motorongeluk in die Kaap dood is. Hy praat van sy skenker met groot bewondering en kan nie help om bewoë te raak oor die groot geskenk wat hy gekry het nie. “Dit is so hartseer om te dink dat iemand moes doodgaan vir my om ‘n nuwe lewe te kry. Terwyl ons so bly is vir ‘n tweede kans is sy familie besig om te rou oor hul seun wat dood is,” sê Gerhard. Die pad na sy herstelproses is opdraande, maar Gerhard sê hy voel al klaar soos ‘n nuwe mens.

Hy glo steeds dat dit ‘n wonderwerk was dat sy operasie geslaag was. Na die operasie het hy komplikasies gehad – interne bloeding en sy hart en longe wat ooreis was weens die vog wat sy liggaam voor die operasie nie wou uitskei nie. Hy is daarna op ‘n ventilator geplaas om sy organe te laat rus. “Die dokter het self gesê dis ‘n wonderwerk dat ek dit gemaak het. Mense van Potchefstroom wat my ouers ken, het gebedsgroepe gestig en gereeld vir my gebid. Ek glo vas hulle gebede het my deurgesien,” sê Gerhard. Hy wil hiermee ook sy dank uitspreek teenoor  almal wat vir hom gebid het.

Gerhard is oneindig dankbaar vir sy skenking en moedig mense aan om hulle weefsel en organe na hulle dood te skenk. Wanneer jy jou weefsels en organe skenk, kan jy sewe mense se lewens verander.

Om ’n orgaanskenker te word, kan jy registreer op hulle webblad – www.odf.org.za – of hulle tolvrye nommer – 0800 22 66 11 – skakel. Hulle sal dan vir jou ’n kaart stuur wat jy moet invul en in jou beursie moet hou. Hulle sal ook vir jou plakkers stuur wat jy op jou ID-dokument en bestuurslisensie moet plak.

Dit is baie belangrik dat jy dit met jou familie en naastes bespreek sodat hulle weet dat jy as orgaanskenker geregistreer het. Ouers moet geskrewe toestemming gee vir hulle babas, kleuters en tieners onder 18 om orgaanskenkers te word.

Daar is geen kostes aan verbonde om as skenker te registreer nie. Wanneer jy sterf en jou organe word geoes, is daar ook geen kostes vir jou naasbestaandes nie. In 2020 is daar berig dat daar ongeveer 4300 volwassenes en kinders in Suid-Afrika is wat op oorplantings wag wat hulle lewens kon red. Net sowat 600 oorplantings word jaarliks plaaslik gedoen. Slegs 0,2 persent van Suid-Afrikaners is orgaanskenkers.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version