Vulstasie-eienaars verloor handelsreg ná hul kontrak nie weer hernu word

Die Total Bonjour vulstasie op die Bult (hoek van Presidentstraat en Albert Luthuliweg) het op 17 November sy deure voorlopig vir die publiek gesluit nadat die huidige handelaars se kontrak nie weer deur Total SA hernu is nie.

Die Total Bonjour vulstasie op die Bult (hoek van Presidentstraat en Albert Luthuliweg) het op 17 November sy deure voorlopig vir die publiek gesluit nadat die huidige handelaars se kontrak nie weer deur Total SA hernu is nie.

Die area wat altyd ‘n miernes van bedrywighede was met motors wat hervul word en die publiek wat gou stop om die koerant of iets te ete te koop, is nou grafstil.

Hoewel die vulstasie die afgelope 25 jaar suksesvol deur Linda en later deur Hendri Hofmeyr saam bedryf is, het Total besluit om nie hul handelskontrak vir ‘n volgende termyn te hernu nie en dat hulle ook nie op enige finansiële vergoeding geregtig is nie.

Volgens ‘n betroubare bron het die Hofmeyrs die afgelope drie jaar verskeie potensiële kopers aan Total voorgelê wat almal aan die voorgeskrewe BEE vereistes voldoen het. Total het al hierdie kopers geïgnoreer en nie op ‘n enkele aansoek gereageer nie.

“Total het gedurende September 2020 onderneem om self die vulstasie te koop en dit te integreer met hul Young dealer program. Die ooreengekome koopsom het egter nooit gerealiseer nie, want die Hofmeyrs kon, ná meer as 25 jaar, nie die oorspronklike tjek of bankstaat van September 1996 vir die aankoop van die vulstasie aan Total voorlê nie”, het die bron bevestig.

Vir die Hofmeyrs was dit die einde van hul kontrak en Total het reeds ‘n jong entrepreneur wat voldoen aan hul beleid ten opsigte van Swart Ekonomiese Bemagtiging aangestel.

Die vulstasie sal weer heropen en sake sal soos normaalweg voorgesit word, sodra die Departement van Energie die vereiste kleinhandelslisensie aan die nuwe bestuurder uitgereik het. Personeel wat in diens van Linda en Hendri was, sal weer hulle poste met die nuwe entrepreneur hervat.

Die Herald het Total vir kommentaar genader maar het geen terugvoering ontvang nie.

.

Exit mobile version