Jong bloed vir Luiperds

Die 30-jarige Freddy Ngoza, wie vroeër vanjaar nog as flank en slot vir die Valke uitgedraf het, sal die huidige afrigters, Eric Herbert, Andrè Pretorius en Chaka Willemse as voorspelerafrigter bystaan.

Die Luiperds het ’n jong opkomende afrigter aangestel vir die 2022 seisoen. Die 30-jarige Freddy Ngoza, wie vroeër vanjaar nog as flank en slot vir die Valke uitgedraf het, sal die huidige afrigters, Eric Herbert, Andrè Pretorius en Chaka Willemse as voorspelerafrigter bystaan. Sy professionele loopbaan het hy op 19 jarige ouderdom by die Griffons begin. Vandaar het hy draai by die Shimlas, Cheetahs, Bulle en die Kings gemaak. Sy pad het hom na Europa toe geneem waar hy in Rusland, Italië en Poland ook rugby gespeel het voordat hy vanjaar weer by die Valke aangesluit het. Tydens sy tyd in Europa het van die klubs hom ook as afrigter by hulle juniorstrukture aangewend. Hy het met die klub in Italië se 0/18 span die liga gewen. “Dit is ’n groot eer vir my om saam die Luiperds te werk. Dit is ’n historiese unie met oor die honderd jaar se geskiedenis. Enige iemand sal dit as ’n eer ervaar,” verduidelik Ngoza. Volgens hom is dit ’n baie goeie plek waar hy homself tans bevind, met die Luiperds wat vanjaar die eerste divisie gewen het. “Ek hou van uitdagings. Ek hou daarvan dat daar groot verwagtinge is van die bestuur en die ondersteuners. Ek is regtig beïndruk met die groep spelers wat al begin oefen het. Ek dink as die universiteit se spelers bykom en ons kan die twee groepe laat saamwerk is ons op ’n baie goeie plek om ’n dinastie in die eerste divisie te bou,’ verduidelik hy. Volgens Eugene Fourie, hoof uitvoerende beampte van die Luiperds, is daar groot opwinding oor die waarde wat hy gaan toevoeg. “Freddy is ’n jong dinamiese afrigter met goeie ervaring wat hy in Europa opgedoen het. Ons glo dat hy ’n ander dinamika na ons span toe sal bring. Met die hulp van senior afrigters soos Eric Herbert (onder wie hy gespeel het) en Chaka Willemse glo ons dat hy nie net by die seniors nie, maar op alle vlakke by Luiperds rugby sal waarde toevoeg,” het Fourie gesê. Hoofafrigter, Andrè Pretorius is net so opgewonde oor die aanstelling. “Ek dink hy bring energie, entoesiasme en nuwe idees,” het Pretorius gesê. Ngoza dink ook sy vars perspektief en kennis van verskeie maniere van rugby speel is die waarde wat hy tot die Luiperds kan toevoeg. “Ek is iemand wat verandering aangryp, ek kyk altyd of is daar ’n nuwe, beter manier van dinge doen,” verduidelik hy. Die verwagting is hoog vir die Luiperds vir die volgende seisoen. Ondersteuners gaan weer wil hê hulle moet die beker lig.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version