CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Prof Dan Kgwadi bedank: aanvaar visekanselierspos by VUT

Prof. Dan Kgwadi se bedanking as visekanselier van die Noordwes Universiteit (NWU) is vandag (Maandag, 8 November) amptelik aangekondig nadat hy die vise-kanselierspos by die Vaal-Universiteit vir Tegnologie (VUT) aanvaar het.

Prof. Dan Kgwadi se bedanking as visekanselier van die Noordwes Universiteit (NWU) is vandag (Maandag, 8 November) amptelik aangekondig nadat hy die vise-kanselierspos by die Vaal-Universiteit vir Tegnologie (VUT) aanvaar het.

Dr. Bismark Tyobeka, voorsitter van die NWU-raad, sê dit is met gemengde gevoelens dat hy prof. Kgwadi se bedanking aankondig. “Hoewel ons saam met hom sy nuwe pos vier, is ons hartseer om hom te verloor.”

Kgwadi sal tot 31 Januarie 2022 in sy huidige pos aangestel wees. Teen volgende jaar sal hy altesaam 18 jaar in diens van die NWU wees.

Hy het vir die eerste keer die NWU-familie betree toe hy in Januarie 2005 die eerste kampusrektor van die NWU Mahikeng-kampus geword het. Hy het dié pos vir ses jaar beklee. Sedert 2014 is hy die visekanselier van die NWU. Sy tweede termyn is in 2019 aangekondig en sou in 2024 verstryk het.

Tyobeka het verder gesê dat Kgwadi ‘n belangrike rol in die transformasieproses by die Noordwes Universiteit gespeel het en die Vanderbijlpark, Mahikeng en Potchefstroom kampusse suksesvol laat saamsmelt het. “Hy sal altyd vir sy ondersteunende en beslissende leierskaprol, veral gedurende die Covid-19 pandemie, onthou word.

Volgens Netwerk24 is Kgwadi nie ‘n onbekende by VUT nie. Hy was in die laat 1990’s hoof van die fisika departement. “Ek kan nou weer terugploeg en sien daarna uit om met die VUT se raad en bestuurspan saam te werk”, het Kgwadi gesê. Hy beplan om in sy eerste termyn by VUT in die week in Vanderbijlpark te woon en naweke by sy familie in Centurion en die Mafufutso-nedersetting naby Delareyville in die Noordwes te deur te bring.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button