Plaaslike skrywer se derde jeugroman bekendgestel

Die plaaslike skrywer, Constant van Graan, het verlede Woensdag, 20 Oktober amptelik sy derde boek, Jungu Josh – Die waters van Wafu, by Slouw Café bekendgestel.

Die plaaslike skrywer, Constant van Graan, het verlede Woensdag, 20 Oktober amptelik sy derde boek, Jungu Josh – Die waters van Wafu, by Slouw Café bekendgestel. Dié boek volg op die eerste twee in sy Jungu Josh-jeugromanreeks. In 2020 is die eerste twee van sy boeke gepubliseer – Die Goue Kalbas (Junie) en Die Kryger van Aboemondja (September).

Tydens die gesellige boekbekendstelling het Van Graan sy vriende en aanhangers ook met sy kitaarmusiek en sang vermaak en die gaste weer van voor af van sy ongelooflike kreatiwiteit bewus gemaak. Nie alleen is hy ‘n senior dosent in forensiese rekenmeesterskap aan die Noordwes-Universiteit nie, maar is hy ook skrywer en sanger van ‘n musiekgroep, Pelican State, wat in Pretoria gebaseer is.

Constant van Graan. Foto’s: Venessa van der Westhuizen

Sy antwoord is eenvoudig toe ek wou weet waar hy die tyd kry om so freneties te skryf, musiek te maak en nog sy werk in te pas. “Ek het nie ‘n vrou en kinders nie,” lag hy. “Ek sal seker beskou word as iemand wat ‘n bietjie van ‘n werkolis is. Ek vind dit nogal moeilik om te ontspan,” bieg hy eerlik.

Van Graan se drie boeke neem jou op opwindende avonture deur Oos-Afrika. Vir die reeks het hy selfs ‘n fiktiewe Magani-taal geskep. Die woord “jungu” wil hy nie sommer verklap aan diegene wat nog nie sy boeke gelees het nie. “Die leser sal vinnig agterkom dat Josh, die hoofkarakter, vinnig moet aanvaar dat hy ‘n jungu is as hy wil oorleef…”

In die reeks boeke is daar vier interessante karakters wat ‘n viermanskap vorm. Josh is die hoofkarakter. Hy is ‘n dertienjarige seun wat in Londen grootword en die laaste twee jaar by sy tannie Verona en haar gesin op hul plaas in Afrika woon. Toe sy ma wegraak, word hy in haar plek koning van Kalimbula, ‘n geheime vallei iewers in Oos-Afrika. Hy staan bekend as Hoofman Simbila – die Ratel. Njeri is ‘n vyftienjarige meisie wat in Kalimbula bly. Sy word Josh se beste vriend en is een van die viermanskap wat Josh help met sy moeilike en gevaarlike take as koning.

Ngandu is een van twee wyse manne in Kalimbula. Hy word Josh se raadgewer en help hom met die uitdagings tydens sy koningskap.

Charlie is weer ‘n saggeaarde en dapper aardwolf wat Josh se getroue vriend word. Vanaf hul eerste ontmoeting, vergesel hy Josh gereeld op ekspedisies. Hy slaap hoofsaaklik in die dag en swerf deur die vallei in die nag op soek na kos en is mal oor termiete en rysmierkoekies.

Constant van Graan en Henk Viljoen, streeksverkoopbestuurder van NB-Uitgewers, tydens die boekbekendstelling. Foto’s: Venessa van der Westhuizen

Constant se boeke spruit uit sy skrywerspersoonlikheid wat van stories hou en sy besonderse liefde vir die natuur. Hy hou daarvan om gereeld die Kruger Wildtuin, Etosha en die Chobe Nasionale Park in Botswana te besoek. Maar volgens hom was sy grootste inspirasie ‘n goeie Keniaanse vriendin, Njeri Mwungi, wat saam met hom in Namibië as forensiese ondersoeker gewerk het. Hy het een van die hoofkarakters op haar baseer. Sy het altyd stories en mites oor Oos-Afrika vertel waaraan hy hom verwonder het.

Hoewel die verhale in die boeke nie spesifiek oor haar stories gaan nie, het sy Constant geïnspireer om die magiese, misterieuse  kwaliteit van Afrika in sy boeke vas te vang. Dit was vir hom baie hartseer toe hy vanjaar die slegte nuus ontvang dat sy op 35-jarige ouderdom weens Covid-19 oorlede is.

Die kreatiwiteit van hierdie skrywer kom nie net in sy boeke en musiek na vore nie. Kinders wat sy boeke lees, sal ook in vervoering wees oor sy Jungu Josh webwerf, https://jungujosh.com/, waarin hy belangrike inligting oor sy reeks boeke deel. Daar is agtergrond-inligting oor elke hoofkarakter, die landskappe en stamme van Kalimbula – die magiese vallei waar sy stories uitspeel. Dan is daar ook ‘n Jungu Josh-liedjie waarna jy kan luister en die Kalimbula-kaart wat jy kan bestudeer om seker te maak dat jy nie verdwaal nie. Die hoogtepunt is natuurlik die Nyamba wa Rombo-toets wat jy moet doen om seker te maak wat jou totemdier is.

Vir Constant is dit nie belangrik hoeveel boeke ‘n skrywer publiseer nie. Vir hom is jy ‘n ware skrywer as mense jou boeke lees. Dit is ‘n voorreg om so ‘n talentvolle skrywer in ons midde te hê wat jou op ‘n Afrika-avontuurreis in Afrikaans kan neem. Het ek dalk al genoem dat die reeks boeke die ideale Kersgeskenk vir alle nuuskierige avontuurlustiges sal wees?

Exit mobile version