NG Bult-gemeente vier 60ste verjaarsdag met ‘n basaar

NG Potchefstroom, die Bult is vanjaar 60 jaar oud en vier Saterdag, 6 November dié mylpaal met ‘n kleurryke basaar.

NG Potchefstroom, die Bult is vanjaar 60 jaar oud en vier Saterdag, 6 November dié mylpaal met ‘n kleurryke basaar.

Verrigtinge skop vroeg af met ‘n opwindende Warrior Race vir kleuters waar Boeta en Sussa van 4 – 8 jaar genooi word om ‘n opwindende hindernisbaan op die kerkterrein te voltooi. Dié resies begin om 08:00 en inskrywings is R30 per kleuter. Tjokkers wat die hindernisbaan voltooi, word ook met ‘n verrassing aan die einde beloon.

Terwyl die kleuters onder toesig baljaar, is daar ook baie tyd vir ma’s en pa’s om rustig by die teetuin te kuier. Hulle kan ook heerlike middagetes soos worsbroodjies, hamburgers, kerrie-en-rys, jaffels en pannekoek koop en vir die soettande is daar ook ‘n koektafel met tuisgemaakte koeke, terte, lekkers en poedings beskikbaar.

Vir diegene wat hulle vleiskaste wil aanvul met voorraad, het die kerk kwaliteit skaap- en beesvleis in snitte voorberei wat teen billike pryse verkoop word. Die basaar sorg ook dat jy vooraf jou Kersaankope kan doen. By die nuwe ougoed stalletjie kan jy dekoritems en kombuisware teen ‘n appel en ‘n ei opraap en by die geskenktafel is daar keurige handwerkprodukte teen winskopies. Die basaar begin 08:00 en word by die kerkgebou (Esselenstraat 42) gehou. Vir navrae, skakel Ben Robbertse by (018) 293 0450 of stuur ‘n e-pos aan ngbult@safricom.co.za.  

Exit mobile version