Betogers versper pad na stortingsterrein

Inwoners  van Hillside View naby Promosa het vanoggend (25 Oktober) die pad wat na die stortingsterrein met brandende bande en klippe versper.

Inwoners  van Hillside View naby Promosa het vanoggend (25 Oktober) die pad wat na die stortingsterrein met brandende bande en klippe versper.

Die betogers is ontevrede omdat die munisipaliteit nie ag slaan op hul diensleweringsversoeke nie en is ongeduldig omdat hulle niks aan hulle riool wat oorloop, doen nie.

Verlede week het die Herald berig dat die puttoilette wat inwoners self in hulle erwe moes aanbring, besig is om oor te loop en dat hulle van die munisipaliteit versoek het om die toilette te dreineer. Die Herald het ook kommentaar van die munsipaliteit gevra om te hoor of hulle bereid sal wees om die toilette te dreineer, maar hulle het nie daarop reageer nie.

Vanoggend het een van die inwoners vertel dat hulle in 2019 kommunikasie van die munisipaliteit ontvang het dat erwe vir hulle uitgesit is. Hulle moes binne ‘n maand op hulle erwe bly anders sou hulle dit verloor. Volgens die inwoners was geen riool, elektrisiteit of water na die erwe toe aangelê nie. Hulle maak tans van gemeenskapskrane gebruik om water te kry, maar het steeds nie riooldienste of elektrisiteit nie.

Een van die inwoners, Edward Katie (42), sê dis baie moeilik om vir twee jaar so te lewe. Hy sê dit is onregverdig dat Sakhele, ‘n woonbuurt in Ikageng, opgerig is nádat Hillside View aangelê is en dat hierdie inwoners riooldienste, water en elektrisiteit het. “Waarom moet Promosa altyd aan die agterspeen suig?”, vra Katie.

Die hoof van afvalbestuur by die munsipaliteit, Sipho Ncemakele, was vanoggend op die toneel om met die betogers te onderhandel. Hy het vir die betogers gesê dit is onregverdig van hulle om dienslewering te eis, terwyl hulle eintlik met die afsper van die pad die dienslewering stop.

Die hoof van afvalbestuur by die munisipaliteit, Sipho Ncemakele, besig om met die betogers te onderhandel. Foto: Venessa van der Westhuizen

Vanoggend was die N12-hoofweg in Klerksdorp ook gesluit en verkeer het opgehoop nadat betogers die pad versper het. Hoewel dié protesgangers na bewering ook oor ‘n gebrek aan dienslewering in opstand is, is dit egter nie dieselfde groep van Hillside View wat betoog nie.

Intussen is inwoners besig om onwettig hulle afval langs die Promosapad te stort. Die Herald het foto’s geneem van ‘n onwettige storters wat sê hulle laai hul afval daar af, want die ingang na die stortingsterrein is toe.

Inwoners is besig om onwettig langs Chief Albert Luthulirylaan, oppad na Promosa, te stort. Foto: Venessa van der Westhuizen

Jeanne Adriaanse, ‘n DA raadslid van die JB Marks munisipaliteit, sê die munisipaliteit is in gesprek met die Hillside View inwoners en het ‘n versoek gerig aan al die inwoners om nie op ander plekke behalwe die stortingsterrein hul afval te stort nie.

Die Herald wag intussen vir kommentaar van die munisipaliteit en sal dit bywerk sodra dit ontvang is.

Exit mobile version