CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Puttoilette loop oor: na twee jaar wag Promosa-inwoners steeds op riooldienste

Uitbreiding 2 in Promosa loop deur onder rioolprobleme met puttoilette wat sedert Junie besig is om oor te loop.

Uitbreiding 2 in Promosa loop deur onder rioolprobleme met puttoilette wat sedert Junie besig is om oor te loop.

“Die stank is ondraaglik en dis baie onhigiënies om so te bly,” sê Butha Kleinhaans, voorsitter van die Hillside diensleweringskomitee. Volgens hom het hy al in Junie e-posse aan die direkteur van tegniese dienste van die munisipaliteit gestuur om hom oor die probleem in te lig, asook aan twee ANC wyksraadslede wat sover nog niks uitgerig het nie.

“Ons wil net hê die munisipaliteit moet die puttoilette dreineer. Sommige van die inwoners het al kontrakteurs betaal om dit vir hulle te doen, maar die meeste van die inwoners het nie die geld om self daarvoor te betaal nie,” sê Kleinhaans.

Toe die JB Marks munisipaliteit in 2019 formeel erwe aan inwoners toegewys het, was daar geen riool, water of elektrisiteitsdienste in die nuwe woonbuurt nie. Hulle was genoodsaak om hulle nuwe erwe te bewoon en het, terwyl hulle op basiese dienste van die munisipaliteit gewag het, self voorsiening vir hul eie sanitêre geriewe gemaak deur puttoilette in hulle erwe te laat grawe.

Hulle het egter in Oktober 2020 vir basiese dienste begin betoog en daarop aangedring dat die administrateur, direkteur tegniese dienste en die direkteur van menslike nedersettings hulle self kom toespreek.

Nog ‘n puttoilet in Promosa wat besig is om oor te loop. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die munisipaliteit het op 14 Oktober ‘n voorlopige aksieplan opgestel wat al die probleme van die inwoners uiteengesit het. In dié aksieplan is die probleme asook die take uiteengesit wat nodig was om die probleme op te los. ‘n Tydsraamwerk asook die verantwoordelike departement en eksterne bronne wat die take moet uitvoer, is ook aangedui.

Op die voorlopige aksieplan, wat die Herald onder oë gehad het, het die munisipaliteit onder sanitasie voorgestel dat die Noordwes departement van menslike nedersettings genader word om tydelik chemiese toilette aan die inwoners van Hillside View te verskaf. Hulle het ook voorgestel dat die munisipaliteit ‘n besigheidsplan aan die Noordwes departement van menslike nedersettings sal voorlê om met die interne dienste (water en sanitasie) te help. Daar was egter geen tydsraamwerk aan die beplande take toegeken nie. Hoewel daar volgens Kleinhaans in Uitbreiding 2 nou al 17 krane vir die inwoners aangelê is, is daar tot op hede nog geen chemiese toilette aan die inwoners verskaf nie. Daar is ook nog geen poging aangewend om aan ‘n rioolstelsel te werk nie.

Die Herald het die munisipaliteit vir kommentaar genader en wou weet waarom daar sedert Junie nog nie aan Uitbreiding 2 se rioolprobleme aandag gegee is nie. Ons wou ook weet of hul bereid sal wees om die inwoners se puttoilette te dreineer en wanneer hulle hierdie taak sal uitvoer. Teen spertyd is geen terugvoering van die munisipaliteit ontvang nie.

Related Articles

Back to top button