CommunityCommunityLifestyleLocal LifestyleLocal newsNewsNewsPhoto Galleries

Altyd ’n leerder nooit ’n meester

Altyd ‘n leerder nooit ‘n meester. Dit is André Pretorius, hoofafrigter van die NWU en Luiperds, se filosofie ten opsigte van afrigting en die lewe oor die algemeen.

Altyd ‘n leerder nooit ‘n meester. Dit is André Pretorius, hoofafrigter van die NWU en Luiperds, se filosofie ten opsigte van afrigting en die lewe oor die algemeen.

“Enige iets wat hy aanpak, doen hy voluit,” beaam sy vrou Claudine. “Ek sal soms in die bad sit en gholfvideo’s kyk om meer te leer. Ek gaan so bietjie na die donkerkant toe, maar dan trek sy my weer terug,” verduidelik André. Die paartjie sit gemaklik, styf teen mekaar op die bank terwyl ons gesels en koffie drink. Daar is duidelik liefde, maar die man wat onlangs die Luiperds tot ‘n Curriebeker eerste divisie beker wen gelei het, erken dat dit nie altyd maklik is nie. “Daar is eintlik nie ‘n balans nie, dit is lang ure, baie tyd weg van die huis af. Afrigting is ‘n emosionele ‘rollercoaster’,” vertel hy.

Claudine en André is ‘n gedugte span

Is dit die prys wat afrigters dan vir die sukses betaal? “Ja maar ek dink mens se gesin betaal meer. Veral met die pandemie was dit ‘n moeilike seisoen want hulle kon nie saam wees by wedstryde nie,” sê hy. Daarom wou André die onlangse bekerwen, die graagste saam met Claudine en hulle twee kinders Kaylen (8) en Lizaé (2) deel. Hulle sê agter elke suksesvolle man is ‘n vrou wat haar oë rol. In die geval van André en Claudine is dit egter ‘n gedugte span wat saam die spreekwoordelike ‘rollercoaster’ ry. “Gelukkig was die finaal op die televisie gewees. Ek was op die foon met een van die ander afrigters se vroue. Ons het saam van blydskap gehuil. Ons besef die harde werk wat die afrigters insit,” glimlag Claudine. Die kultuur van familie is iets wat André by sy spanne wil kweek. “Ek wil hê dat die afrigters se kinders en vroue so deel is van die span soos die spelers self. Ek is gelukkig om so ongelooflike span saam met my te hê,” verduidelik hy. “Hulle is regtig meer as kollegas, hulle is al soos broers,” voeg Claudine by. André se naam is vroeër vanjaar genoem om by Ivan van Rooyen van die Leeus oor te neem. Nee julle kan nie ons André kry nie, was hierdie skrywer se eerste reaksie op die gerugte. Wat is die planne vir die familie? ‘n Oomblik se huiwering tussen André en Claudine. Dan ‘n glimlag. “Dit is iets wat ons oor sal moet praat as dit ooit opkom,” glimlag Claudine wat in Potchefstroom grootgeword het. “Vir nou is daar nie planne om weg te gaan nie. Ek dink ek het ook nog ‘unfinished business’ in die Varsity Cup. Ons is besig met baie goeie goed by die NWU en die Luiperds. Ek wil aanhou waarde toevoeg waar ek is. As die Springbokke my nader, dink ek dit sal vir my meer beteken as wat dit waarde vir die Springbokke sal toevoeg. Ek het nog baie waarde wat ek by die Luiperds en NWU wil toevoeg,” verduidelik hy. Alhoewel dit vir almal wat die Luiperds en die NWU ondersteun ’n bitter pil wees om te sluk as André ’n ander pos aanvaar, sal ons verstaan as daar ’n groter pos oor sy pad kom. Mens kan nie talent vir te lank wegsteek nie. Altyd ‘n leerder nooit ‘n meester. Aan die einde van ons gesprek maak André se woorde baie meer sin. André Pretorius het die afrigtingsrange geklim. Die tipe nederige benadering sien mens nie altyd nie. Voormalige Springbokke word gewoonlik uit die staanspoor by groot afrigtingsposte betrek. André, het ervaring by koshuisrugby, skool en klubrugby opgebou. Elke keer met iets nuuts weggestap wat hy by die volgende pos kon gebruik. Die Luiperds se bekersege is nie net ‘n wen vir die platinum provinsie nie, maar ook vir die familiekultuur wat onder leiding van André gekweek is.

Related Articles

Back to top button