CommunityNewsNewsPhoto Galleries

‘n Tweede kans na bykans 40 jaar in die koerantwese

Na bykans 40 jaar by die Potchefstroom Herald het Carolina Sharpley besluit dit is die regte tyd om af te tree.

Na bykans 40 jaar by die Potchefstroom Herald het Carolina Sharpley besluit dit is die regte tyd om af te tree. Almal ken haar as die saggeaarde, vriendelike dame by die koerant se advertensie-afdeling.

Sy het die voorreg gehad om die vinnige groei van die drukkerswese eerstehands te beleef en gesels met groot heimwee oor haar beginjare by die ou drukkery toe haar pa, Pieter van der Spoel, een van die eienaars was. Pieter het saam met sy broers, Wouter, Rudi en Simke die drukkery bestuur voordat hulle dit later aan Naspers verkoop het. Hulle het die drukkery weer van hulle pa, Simke van der Spoel geërf.

Carolina het as 18-jarige as tikster by die drukkery begin werk en was later by bykans al die afdelings van die besigheid betrokke voordat sy uiteindelik na advertensies toe oorgeskuif het. “Ek het oral gehelp, behalwe om as joernalis te werk,” lag sy.

Hoewel Carolina aanvanklik beplan het om eers oor ses jaar af te tree, het haar planne drasties verander toe haar man, Patrick Sharpley, vroeër vanjaar aan Covid-19 dood is. Hulle het albei die virus opgedoen en was gehospitaliseer. Kort na Patrick se dood het Carolina ‘n tweede slag gekry toe sy met kanker gediagnoseer is. “Na my operasie het die dokters vasgestel dat al die kanker verwyder is. Dit was dus nie nodig om bestraling ook te kry nie. Dit het vir my gevoel asof ek ‘n tweede kans gekry het om te lewe,” sê sy.

Nadat Carolina van haar operasie herstel het, was sy vir ‘n kort tydjie weer terug by die werk toe sy besluit het om te bedank. “Ek het genoeg tyd gehad om hieroor na te dink. Ek gaan die mense saam met wie ek gewerk het en al die kliënte wat ek goed leer ken het baie mis, maar ’n mens kyk met ander oë na die lewe as die dood so naby aan jou gekom het. Ek het besluit die lewe is te kort. Dit was altyd my en my man se droom om in die Kaap af te tree. Waarom moet ek nog vir ses jaar wag? Ek het mos nou ‘n tweede kans gekry,” sê sy met ‘n vonkel in haar oë.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button