CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Maak ‘n minderbevoorregte meisie se matriekafskeid droom ‘n realiteit

Die Suid-Afrikaanse Polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) in die Noordwes besig om aan ‘n projek te werk wat minderbevoorregte meisies in die Noordwes ook die geleentheid sal gee om ‘n matriekafskeid van hul drome te kan hê.

Meisies droom al van kleins af van hul matriekafskeidrok. Ongelukkig het almal se ouers nie die finansies om hierdie droom te bewaarheid nie.

Gelukkig is die Suid-Afrikaanse Polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) in die Noordwes besig om aan ‘n projek te werk wat minderbevoorregte meisies in die Noordwes ook die geleentheid sal gee om ‘n matriekafskeid van hul drome te kan hê.

Ao. Elmarie van der Merwe van die GKS in die Noordwes staan onder haar kollegas as ‘n “fairy godmother” bekend omdat sy nou die rol van die goeie fee van Cinderella vertolk. Dit is haar passie om minderbevoorregte meisies te ondersteun sodat hulle ook met ‘n pragtige rok, juwele, skoene en ‘n bypassende handsak uitgerus word om hul groot aand te kan bywoon.

Ao. Elmarie van der Merwe beywer haar om vir minderbevoorregte matriekmeisies ‘n droom matriekafskeid te reël. Foto: Venessa van der Westhuizen

Meisies wat graag ‘n uitrusting by haar wil leen, kan vir haar ‘n WhatsApp stuur met haar gunsteling kleur, grootte van haar rok en skoene, datum van die matriekafskeid, naam van die skool en kontakbesonderhede. Die leen van die rok is gratis.

“Ek doen ‘n beroep op alle meisies om hul eie matriekafskeidrok vir ons te skenk sodat ons die rok vir iemand wat dit nodig het, te kan bruikleen,” sê Elmarie. Sy het die groot taak aangepak om al die rokke veilig te bêre en te fotografeer totdat iemand dit nodig kry. Sy sê die rokke word nie aan die meisies gegee nie, maar sy koerier dit vir hulle sodat hulle dit kan leen en weer aan haar teruggee. So word haar voorraad nie minder nie en kan meer as een meisie die geleentheid kry om ‘n duur rok te dra.

Rokke is egter nie al op haar skenkingslysie nie. Sy wil graag ‘n hele uitrusting beskikbaar stel en vra vir mense om ook skoene, juweliersware en handsakkies te skenk. Uitrustings wat in Potchefstroom geskenk word, gaan haal Elmarie self by die skenkers.  Mense wat nie in Potchefstroom woon nie, kan Elmarie by 071 647 1791 of 060 967 3959 skakel. Sy reël dan dat ‘n koerier die uitrustings by die skenker gaan haal.

“Mense het ons sover met groot entoesiasme ondersteun en ons het al ‘n hele paar uitrustings om uit te leen. Daar is selfs haarkappers, skoonheidsterapeute en naeltegnici wat hulle dienstegratis aangebied het,” sê Elmarie.

Related Articles

Back to top button