NewsNews

Die filosofie van Vaarwel

Die groep Vaarwel se nuutste enkelsnit, Sondebelasting, is onlangs op alle digitale platforms beskikbaar gestel.

Wanneer ‘n onderhoud oor een liedjie in ‘n ure lange gesprek oor die gebruik en gevaar van sosiale media ontaard en boonop oor die filosofie, dan het ‘n mens nie meer net met gewone musikante te doen nie.
Die groep Vaarwel se nuutste enkelsnit, Sondebelasting, is onlangs op alle digitale platforms beskikbaar gestel.
Behalwe dat dit ‘n “catchy tune” is, is dit ook ‘n baie goeie kommentaar op die gebruik van sosiale media.
Die groep bestaan uit Zander Botha, Wim Snyman en Conrad Stickling. Die drie is almal 25 jaar oud.
Die groep het 2017 aan PUKfm se “Battle of the Bands” deelgeneem. “Ons het nie gewen nie en het die volgende jaar weer probeer,” sê Zander.
In 2018 het hulle die kompetisie gewen en die volgende jaar het hulle voor sowat 7 000 eerstejaars in die Amfi gespeel.
“Dit was vir ons regtig iets groot. Om daar te staan en duisende mense skree en sing terwyl jy speel, is ‘n belewenis,” verduidelik Conrad.
Die groep het aanvanklik uit vier lede bestaan, maar een van die lede het werk in Asië aanvaar.
“Ons was vir ‘n rukkie baie stil gewees, maar het besluit dat ons drie steeds sal aangaan. Ons is ‘n broederskap en kon nie net ophou nie,” vertel Zander.

Hulle was altyd bekend as The Farewell, maar het die naam verander om by hul tipe musiek te pas.
“Ons is drie Afrikaanse ouens, ons praat Afrikaans en ons dink in Afrikaans, so ons moet ook in Afrikaans musiek maak,” verduidelik Zander diè verandering.
Die refrein van hulle enkelsnit, “Ek betaal my dood aan sondebelasting” is nie net gemik op die sondebelasting wat deur die regering op drank geplaas word nie. Dit is ook ‘n kommentaar oor hoe mense sosiale media gebruik.
“Mense sit halfkaal foto’s van hulself op sosiale media net om ‘likes’ en ‘followers’ te kry. Hoewel sosiale media vir baie goeie dinge gebruik kan word, is daar maar ‘n prys wat mense betaal,” verduidelik Zander.
Sodra daar weer massas mense by optredes toegelaat word, sal mense die naam Vaarwel by baie feeste raaksien.

 

Related Articles

Back to top button