Besoedeling nie meer ons probleem sê Total SA

Terwyl inwoners naby die N12 Total vulstasie wag dat Total SA die rioolbesoedeling op die erf langsaan aanspreek soos huI beloof het, het Total SA in 'n onlangse mediaverklaring bevestig dat hulle al hul rehabilitasiebeloftes reeds nagekom het.

In ʼn onlangse mediaverklaring bevestig Total SA dat hulle die rioolwater, afkomstig van die N12 Total vulstasie se rioolaanleg, wat hulle vir etlike maande in ʼn gronddam op ʼn erf langs die vulstasie gestort het, reeds verwyder het en die area gerehabiliteer het.

Hulle beweer dat die water wat tans daar is, afkomstig is van ʼn onbekende waterbron wat die eienaar van die grond, Kiri Vardakos, self daarin pomp. “Die Hazmat-maatskappy het die aangrensende erf behandel en ‘n skoonmaak-verslag is opgestel. Die septiese tenk op die perseel word ook daagliks leeggemaak en by die munisipale afvalwaterbehandelingsfasiliteit gestort”, sê Baxolile Msomi, korporatiewe kommunikasie- en bemarkingsbestuurder van Total SA.

Volgens Msomi huur Total SA slegs die grond waarop die Total vulstasie gebou is en nie die aangrensende erf met die besoedelde dam nie. Hy sê ook dat die rioolafvalsisteem wat oorspronklik by die vulstasie geïnstalleer is nie meer gebruik word nie en dat die besoedelde water wat steeds daar is nie meer hulle probleem is nie.

‘n Foto wat onlangs geneem is. Die baksteenmuur links is deel van die N12 Total vulstasie. Die groen water regs was oorspronklik afkomstig van die Total rioolsisteem wat volgens Total SA nie meer in werking is nie. Foto: Verskaf

Maar inwoners in die omgewing sê dat die water nooit verwyder is nie. Dit is inteendeel nou meer as tevore. Die eienaars het selfs so ver gegaan om vore te grawe dat die groen water daarin kanaliseer. Anné van Onselen, DA-raadslid van die wyk, sê na die reën is die probleem erger. “Daar was nooit ʼn stadium dat die groen water alles verwyder was nie. Die grondpad wat langs die vulstasie verbyloop en woonbuurte verbind, kan steeds sedert einde verlede jaar nie gebruik word nie omdat die groen water uit die dam daarin oorspoel. Dit loop ook teenaan meenthuis komplekse en besoedel die omgewing verder.

‘n Onlangse foto van die water wat wat in die pad (Kanaalweg) opdam. Die pad kan nie meer gebruik word nie. Foto: Verskaf

Volgens Van Onselen is die onenigheid van die rioolwater al sedert 2018 aan die gang, ʼn rukkie net nadat die vulstasie daar opgerig is. Die rioolwater was afkomstig van ‘n privaat rioolaanleg wat die bestuurders van die vulstasie aanvanklik geïmplementeer het omdat hulle nie aan die stad se rioolaanleg gekoppel is nie. Die eienaars het egter later wysigings aan die rioolsisteem gemaak wat veroorsaak het dat hulle ‘n oormaat afvalwater gehad het. Dié water het hulle in 2018 eers in die teerpad gestort en slote langs die N12 gegrawe waar die water ingeloop het.

Inwoners van die omgewing het oor die oorvloed water in die teerpad begin kla, maar vir maande het die bestuurders van die vulstasie die probleem ontken totdat Total SA genader is. Total SA het beloof om die probleem aan te spreek.

Nadat die afvalwater nie meer in die pad afgeloop het nie, het inwoners gedink die probleem is opgelos totdat hulle agtergekom het al die afvalwater word nou in ‘n gronddam langs die Total vulstasie gestort. Dié dam het later só vol geword dat dit in die grondpad langs die vulstasie oorgeloop het.

Die bestuurders van die vulstasie het nou ‘n kanaal gegrawe waarin die besoedelde water tot in die grondpad (Kanaalweg) loop. Foto: Verskaf

Behalwe dat die grondpad nie meer gebruik kan word nie, hou die water verder gesondheidsrisiko’s in. Werknemers van die departement van gesondheid van die Dr. Kenneth Kaunda distrik het die besoedelde dam besoek en op 18 Januarie ‘n verslag opgestel. Daarin het hulle bevind dat die dam ‘n broeiplek is vir groen alge wat ‘n gesondheidsrisiko inhou. Hulle het ook swart afsaksel in die water opgemerk wat hulle aan patogene in die water toeskryf en verder bevestig dat die dam ‘n broeiplek vir muskiete is. Verder het hulle ook ‘n slegte reuk aangeteken en het bevestig dat die besoedeling die Dr. Kenneth Kaunda distriksmunisipaliteit se gesondheidsbywet van seksie 9 (a)(b) en (c) oortree.

Weer is Total SA genader. Hulle het ooreengekom om ‘n Hazmat-maatskappy aan te stel om die besoedelde water in die dam te verwyder en by die munisipale afvalwaterbehandelingsfasiliteit te stort. Daarmee saam het hulle ook onderneem dat die Hazmat-maatskappy ook die grond wat deur die water besoedel is, sal behandel. Hulle het ook onderneem om die rioolaanlegsisteem te herstel.

Sedertdien wag die inwoners in spanning dat Total hul beloftes nakom, terwyl Total SA nou beweer dit is alles reeds gedoen.

Hans-Jurie Moolman, DA-raadslid van JB Marks munisipaliteit, het ‘n brief aan Total Suid-Afrika geskryf waarin hy gesê het dat die besoedeling op ‘n ernstige oortreding van die Suid-Afrikaanse omgewingswetgewing neerkom. “Dit kan nie so aangaan nie. Dit is ondenkbaar dat u maatskappy, of enige ander instansie met ‘n redelike mate van ‘n gewete en korporatiewe sosiale verantwoordelikheid, met sulke optrede en so ‘n openbare beeld, in enige deel van Suid-Afrika, tevrede sou wees,” het hy aan Nadia Vosloo, ‘n skakelbeampte van Total SA geskryf.

Maar volgens Total SA het hulle al hulle maatreëls nagekom. Die Herald het by die munisipaliteit bevestig dat daar al sowat 33 keer ‘n totaal van 730 kiloliter water by die munisipale afvalwaterbehandelingsfasiliteit gestort is. Daar kan egter nie vasgestel word of dit slegs die water van die septiese tenk is wat volgens Total daagliks leeggemaak word en of dit die water van die besoedelde gronddam ook ingesluit het nie.

Volgens Total SA is Kiri Vardakos die eienaar van die grond en is hy verskeie kere oor die probleem genader, maar dat hy nie sy samewerking gee nie. “Gevolglik wil Total Suid-Afrika dit duidelik stel dat alle klagtes in die toekoms aan Vardakos gerig moet word,” sê Total SA.

Die Herald het een van die bestuurders van die vulstasie, George Palazli, gekontak maar hy wou nie met ons praat nie en het ons na Total SA verwys. Die Herald het Vardakos gekontak wat in ʼn mediaverklaring bevestig het dat hy nie die verhuurder van die grond is waarop die vulstasie gebou is nie, maar dat hy die prokureur is wat die eienaar, Shasta Investments, verteenwoordig.

Vardakos het gesê dat hy nooit “verskeie kere” deur Total gekontak is soos wat hulle beweer nie. Hy het onderneem om ondersoek in te stel en later breedvoerig op die bewerings van Total SA kommentaar te lewer.

AfriForum het ook die Groen en Blou Skerpioene rondom die besoedeling ingelig en volgens Lieb Venter, AfriForum-bestuurslid gemoeid met omgewingsake, word die saak deur hulle ondersoek.

Anné van Onselen, DA-raadslid van die wyk sê sy is steeds besig om aan die probleem te werk. “Ek is baie teleurgesteld in die bestuurders van die vulstasie en Total SA wat nie die probleem kan oplos nie en nou hulle hande in onskuld was,” sê Van Onselen.

Exit mobile version