CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Genealoë leer om goeie foto’s te neem

Johan de Klerk, ‘n fotograaf van formaat, gaan Saterdag, 10 April om 10:00 by die Potchefstroomse Museum (h/v Sol Plaatjielaan en Wolmaransstraat) met genealoë kom gesels om die impak van hul foto’s van mense en plekke te verhoog.

Johan de Klerk, ‘n fotograaf van formaat, gaan Saterdag, 10 April om 10:00 by die Potchefstroomse Museum (h/v Sol Plaatjielaan en Wolmaransstraat) met genealoë kom gesels om die impak van hul foto’s van mense en plekke te verhoog.

Aspekte wat onder meer bespreek gaan word, is die belangrikheid van komposisie en die gebruikmaking van lig. Met die deurblaai van foto-albums van toeka se dae, word ‘n mens getref deur die persone in hul kisklere wat strak en emosieloos na die kamera staar. Op hierdie foto’s is ‘n glimlag so skaars soos hoendertande. Neem jy in ag dat die eerste fotobeeld minder as 200 jaar gelde vasgelê is, is dit te verstane. Kameras in die laat 1800’s was skaars en die neem van ‘n foto deur ‘n professionele fotograaf ‘n langdradige proses. Diegene wat afgeneem moes word, moes vir lang tye bewegingloos staan of sit.

Vandag, met die ontwikkeling van die kamera en die koms van selfone, kan byna elkeen ‘n foto binne sekondes neem. Die gemene deler tussen ‘n foto van toeka en nou is, is dat dit ‘n storie vertel. Omdat foto’s ‘n storie vertel, is familiefoto’s vir diegene wat hulle voorgeslagte se geskiedenis navors, van onskatbare waarde. Dit sit ‘n gesig by geboorte-, huwelik- en sterfdatums. Dit weerspieël ook ‘n bepaalde tydsgees in ons geskiedenis.

Johan se belangstelling in fotografie het reeds in sy kinderdae in sy geboortedorp, Bethulie, begin. Sedert 2007 bied hy onder die vaandel van Towerlantern Fotografie bekostigbare klasse vir beginners en meer ervare fotograwe aan. Selfone het dit vir almal moontlik gemaak om foto’s te neem en daarom bied hy ook ‘n selfoonkamerakursus aan. Belangstellendes wat graag sy maandelikse blaadjie: “Fotografienuus” gratis wil ontvang, kan hom gerus by johan@towerlantern.co.za kontak.

Volgens Elmarie Weyers, kurator van die Potchefstroomse Museum, skenk kinders en kleinkinders van afgestorwenes graag ou familiefoto’s aan die museum. Ongelukkig kan baie van die mense op die foto’s nie geïdentifiseer word nie, omdat daar geen inligting oor die persone aangeteken is nie. Om te voorkom dat ons nasate met dieselfde probleem sit, is dit belangrik dat foto’s so vinnig moontlik behoorlik beskryf word. Hier is die name van die persone, die datum en plek wanneer en waar die foto geneem is en inligting oor die geleentheid van uiterste belang.

 

Related Articles

Back to top button