EntertainmentNewsNews

Beweerde verkragtingsaak van leerling nie reg hanteer sê ouers

‘n Leerling van Promosa Sekondêr het op 5 November verlede jaar ‘n verklaring by die polisie afgelê nadat sy beweer het dat sy deur een van die onderwysers van die skool verkrag. Ouers is ongelukkig omdat hulle nie van die begin af oor die voorval ingelig is nie.

‘n Leerling van Promosa Sekondêr het op 5 November verlede jaar ‘n verklaring by die polisie afgelê nadat sy beweer het dat sy deur een van die onderwysers van die skool verkrag. Die beweerde verkragting het volgens haar reeds op 3 Oktober by die onderwyser se huis plaasgevind toe sy ‘n werkstuk by sy huis gaan haal het. Haar ouers het eers op 2 November van die beweerde verkragting uitgevind nadat hulle haar oor haar vreemde, angstige gedrag gekonfronteer het.

“My dogter was die aand baie senuweeagtig toe sy ‘n telefoonoproep ontvang en ek het haar gevra met wie sy oor die telefoon praat. “Ek het haar foon by haar afgeneem en uitgevind dat dit ‘n onderwyser was. Ek het vir hom gesê dis ongehoord dat onderwysers leerlinge in ‘n private hoedanigheid kontak,” sê die ma, wat verkies dat haar identiteit nie bekend gemaak word nie. Die leerling het daarna teenoor haar ouers erken dat sy verkrag is.

Die ouers was woedend omdat die skool hulle nie van die begin af oor die beweerde voorval ingelig het nie  en dat hulle reeds ‘n verklaring van haar dogter afgeneem het. Hulle het ook reeds die saak by die onderwysdepartement gerapporteer sonder om die ouers in kennis te stel. Die ma het die volgende dag die skoolhoof, Vonne Ferris, gebel wat weer ‘n heel ander weergawe van die voorval gehad het. Ferris was onder die indruk dat die leerling ‘n “crush” op die onderwyser gehad het en dat die leerling hom probeer soen het.

Ferris sê die leerling het na die voorval tydens ‘n intervensie in haar kantoor erken dat sy die onderwyser probeer soen het. Ferris, die betrokke onderwyser en ‘n lid van ’n onderwysunie was tydens die vergadering teenwoordig. Ferris het daarna die voorval aan die kringinspekteur, Rina Sebolai, gerapporteer.

Nadat die ma die skoolhoof gekontak het, het haar dogter op 5 November ‘n verklaring by die polisie afgelê. Tydens dié verklaring het die dogter gesê sy is verkrag, maar met die ondersoek by die polisie se kinderbeskermingseenheid  die volgende dag het sy weer gesê die onderwyser het haar nie verkrag nie. Dié teenstrydige verklarings het glo veroorsaak dat die saak in Desember uitgegooi is.

Die leerling beweer nou die onderwyser het haar verkrag en dat hy haar gedwing het om nie die waarheid te praat nie.

Die ouers glo dat die saak van die begin af nie reg hanteer is nie. Die leerling se ma sê die voorval sou ook nie verdag gewees het as die hoof hulle van die begin af oor die voorval ingelig het nie. Terwyl die saak al in November ondersoek en die onderwyser onskuldig bevind is, het niemand die uitslag van die saak ooit aan die ouers gekommunikeer nie.

Volgens Carlo de Meyer, ‘n beampte in arbeidsverhoudinge van die onderwysdepartement, het die skoolhoof reg opgetree deur die voorval soos wat die leerling dit aan haar oorgedra het, dadelik aan Sebolai te rapporteer. De Meyer sê toe die ma die skoolhoof gekontak het met haar weergawe van die saak,  het die hoof haar genooi om haar die volgende dag by die skool te kom sien. Sy het nooit opgedaag nie. Volgens De Meyer het maatskaplike werkers van FAMSA by twee geleenthede die ma gebel om met haar ‘n afspraak te reël, maar kon haar nie in die hande kry nie. Hy sê die onderwysdepartement beskou sake van seksuele wangedrag in ‘n baie ernstige lig en dat dit glad nie geduld word nie. “In die saak van Promosa Sekondêr is die saak deeglik ondersoek en is die onderwyser steeds by die skool omdat daar geen omvattende bewyse gelewer kon word dat hy die leerling verkrag het nie,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button