LifestyleNewsNews

Lumegen Laboratories toets vir Covid-19: ook in afvalwater

Lumegen Laboratories is ‘n privaat laboratorium in Potchefstroom wat amptelik goedkeuring van die Departement van Nasionale Gesondheid ontvang het om Covid-19-toetse uit te voer.

Lumegen Laboratories is ‘n privaat laboratorium in Potchefstroom wat amptelik goedkeuring van die Departement van Nasionale Gesondheid ontvang het om Covid-19-toetse uit te voer. Vir slegs R750 (R100 goedkoper as die meeste laboratoriums), kan die publiek nou ook Lumegen Laboratories se diens gebruik om vas te stel of hul Covid-19 positief of negatief is.

Hoewel hulle nou eers die amptelike stempel ontvang het, was hulle reeds sedert Mei verlede jaar deur Nasionale Gesondheid se Laboratoriumdienste (National Health Laboratory Services – NHLS) gekontrakteer om Covid-19-toetse te doen. Dié reëling was hoofsaaklik omdat die hoë aanvraag na Covid-19-toetse die NHLS genoop het om ekstra hulp in te kry. So het Lumegen tot 400 toetse per dag uitgevoer. Toe die aanvraag vir toetse begin afneem en die NHLS nie meer hulle dienste gebruik het nie, het hulle reeds aansoek gedoen om toetse privaat uit te voer.

Vandag besit Lumegen ‘n deurry fasiliteit waar jy vinnig en maklik jou Covid-19-status kan bepaal. Uitslae word binne 24 uur gelewer en kan in noodgevalle ook binne ses uur gelewer word. Sertifikate word ook uitgereik. Die enigste vereiste vir ‘n toets is dat jy 40 minute voor die monster geneem word, nie mag eet of drink nie.

Covid-19 toetse is egter nie die enigste diens wat die laboratorium rondom die gevreesde virus uitvoer nie. Dariah de Villiers, laboratorium bestuurder, vertel dat Lumegen ook sedert Mei verlede jaar ‘n protokol ontwikkel om Covid-19 in afvalwater te moniteer. Hulle is deel van SACCESS (South African Collaborative Covid-19 Environmental Survailance System), ‘n netwerk van munisipaliteite, universiteite en nie-winsgewende organisasies wat saamwerk om die Covid-19 virus in afvalwater op te spoor.

“Afvalwater word getoets om die konsentrasie van die virus in die water te bepaal. So kan ‘n toename van die virus in die water ‘n piek tot drie weke voor die tyd voorspel. Hierdie metode kan ook gebruik word om skole, maatskappye en geboue op groot skaal te moniteer, sonder om elke individu afsonderlik te toets,” sê De Villiers.

Die Lumegen-span is van links: Dariah de Villiers (direkteur/laboratorium bestuurder), Pierre Neethling (direkteur), Nadine Lepart (admin/laboratorium tegnikus) en dr. Oksana Levanets (laboratorium tegnikus) Foto’s: Venessa van der Westhuizen

Die laboratorium toets sedert Februarie vanjaar ook die afvalwater van Potchefstroom om die teenwoordigheid van die virus vas te stel en is tans in onderhandeling met die universiteit om afvalwater daar ook te toets.

Lumegen Laboratories het ‘n groot tree in die uitbreiding van dienste gegee vandat hulle in 2013 as ‘n klein beskeie molekulêre diagnostiese laboratorium begin het. So het hulle aanvanklik slegs dienste aan papegaaitelers verskaf. Die uitvoer van papegaaie is ‘n groot industrie in die land en hulle is steeds by dié diens betrokke. Telers het ‘n groot behoefte om reeds vroeg die geslag van kuikens te bepaal en met uitvoer en ‘n voëlboerdery is dit belangrik om te bevestig dat die voëls nie siektes  het nie.

Dr. Oksana Levanet (voor) besig om die Covid-19 resultate te ananliseer en Nadine Lepart (agter) by die ‘Realtime PCR’-masjien.

Omdat die geslag van papegaaie nie uitwendig sigbaar is nie, word die DNS in die bloed van voëls getoets om die geslag te bepaal. Dié en patologiese toetse, soos die dodelike Psittacine bek-en-veersiekte virus, asook die Avian Polyoma virus, is net so gevaarlik vir voëls as wat Covid-19 vir die mens is. Die laboratorium is besig om hul profiel van toetse uit te brei na beeste, varke en wild.

Lumegen Laboratories se kantore is op die grondvloer by Mareepark-gebou (Mareestraat 3) geleë. Vir verdere navrae skakel gerus vir Nadine Lepart of Dariah de Villiers by (018) 175 0973 of stuur ‘n e-pos na info@lumegen.co.za.  

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button