Local newsNewsNews

Gemeenskap deel herinneringe van geliefde atleet, pa en vriend

Hy het ‘n passie gehad vir sport (atletiek) en het altyd gesê: “Life begins at 40.”

Shadrack Hoff (SA 5000m kampioen wat Nico afgerig het)

“Ek het Nico ontmoet toe ek nog op skool was. Ek wou destyds sokker speel en het op 17 besluit om saam met Nico te oefen. Saam met Nico was dit hel en nag met die oefeninge. Hy het nie nonsens gevat nie. “Ek onthou hy het my laat bande trek tot ek amper dood was. Nico se oefeninge was wel wat my tot groot hoogtes geneem het. As dit nie vir Nico en die Promosa gemeenskap was wat in my ook geglo het nie, was ek nie waar ek vandag is nie.”

Clyde Stoffberg (spanmaat en vriend) “Ek het saam met Nico aan talle wedlope deelgeneem en ons het ook saam tweekamp gedoen. Hy was ‘n plaaslike held in Promosa. Hy het altyd advies gegee en my aangespoor om by atletiek betrokke te raak.”

Boodskap van die familie: “Nico Deerling en sy seun Grant laat ons as familie met ‘n groot leemte, maar ons bevraagteken God nie. Ons as familie is in rou en hierdie is iets wat ons nooit sal vergeet nie. Nico was ‘n steunpilaar in ons familie, altyd vrolik en aan die woord en het almal bymekaar probeer hou. Hy het ‘n passie gehad vir sport (atletiek) en het altyd gesê: “Life begins at 40.” Nico het ‘n impak gehad op baie mense se lewens en jongmense het na hom opgekyk. Hy was ‘n goeie voorbeeld vir sy gemeenskap. Nico was baie lief vir sy kinders en kleinkinders en sou sy lewe vir hulle gee. Die familie, vriende en gemeenskap het groot verloor. Mag hy en sy seun se siele in vrede rus. Nico se legacy sal vir altyd bly staan.”

Nimrod Finger (vriend en oefenmaat) “Ek ken vir Nico al van skooldae af in Promosa en hy het my destyds gemotiveer om te begin hardloop. Ons sou begin met ‘n 10 kilometer en dan is dit maklik dan stoot ons dit op na ‘n 21 kilometer en voor ek weer sien, het ons saam die Comrades gedoen. Hy het my baie geleer hoe om te beplan en hoe om te oefen. Hy was ook lief om die Telkom-koppie te hardloop. Vir hom het dit gegaan oor tyd op die pad – en hy was altyd padfiks. Ons sou ook probeer om elke maand aan ‘n marathon of wedloop deel te neem. Een van my beste herinneringe van hom was op skool toe ons ‘n weddenskap gemaak het. Die eerste persoon wat drie rondtes om die stadion hardloop kon R2 kry. Daardie tyd was dit baie geld. Nico het toe weggespring en gedink as hy so volhou gaan hy moeg raak en omslaan. Hy het net aangehou hardloop en toe weet ek hy is gebore om te hardloop.”

Tiffany Deerling (dogter) “Hy het vir sy kinders en kleinkinders geleef. Hy het vier kleinkinders (drie dogters en ‘n seun). Hy was ‘n mensemens gewees en ons sal hom mis.”

Willem van Rooyen (vriend) “Ek en Nico het ons verskille gehad, maar van jongs af het hy ons jonger hardlopers touwys gemaak. Hy was altyd voorbereid en het op sy ouderdom eintlik beter geword met tyd.”

Casper Murphy (vriend) “Nico was ‘n nice ou, maar soms ook ‘n moeilike ou, maar hy kon maklik vergewe. Wat vir hom saakgemaak het was sy sport. Hy was baie lief daarvoor en sou alles doen om dit te bevorder.”

Jan Weideman (Potchefstroom Dorp Krieketklub president) “Die klub toon medelye aan sy familie en vriende in hierdie tyd. Ons by die klub kan nie glo dat hy nie meer by ons is nie. Saterdag by die wedstryd was dit vreemd om hom nie daar te sien nie. Hy was ‘n ongelooflike atleet wat tussen skofte sommer op Witrand se veld gehardloop het en ook vroeër werk toe en terug huis toe gedraf het. Hy was ook ‘n baie goeie veldopsigter en een van daardie ouens waarmee spelers oor die weg gekom het. Ons kon op Saterdae opdaag en weet die veld is altyd in ‘n puik kondisie. Hy het ook baie kennis gedeel met die mense wat hy opgelei het. Sy dood is ‘n groot verlies vir Potchefstroom.”

Jean Verster (ACNW president) “Ou Nico was ‘n ster wat baie lank vir ACNW gehardloop het. Hy het altyd ander atlete ook ondersteun en ‘n kanniedood vir atletiek gewees. Dit is verskriklik hartseer en die hele atletiekgemeenskap gaan hom mis. Dit is ‘n groot skok vir ons almal en hy gaan ‘n groot leemte in Potchefstroom se sportgemeenskap laat.”

Related Articles

Back to top button