Jongste van vier slimkopsussies behaal 8 onderskeidings

Dis nie aldag dat vier kinders uit een gesin almal agt en meer onderskeidings in matriek behaal nie, maar vanjaar het Annemarie Hoffman, ‘n matriekleerling van Gimmies, bewys dat dit wel moontlik is.

Dis nie aldag dat vier kinders uit een gesin almal agt en meer onderskeidings in matriek behaal nie, maar vanjaar het Annemarie Hoffman, ‘n matriekleerling van Gimmies, bewys dat dit wel moontlik is.

Sy is die vierde dogter van Alwyn en Helena Hoffman wat agt onderskeidings, eintlik nege indien haar Alfa wiskunde-eksamen bygetel word, behaal het. Die Hoffmans se oudste dogter, Lisa (28), het in haar matriekjaar nege onderskeidings behaal en daarna wiskunde en informatika aktuarieel studeer. Die tweede oudste, Lienkie (26), het nege onderskeidings behaal en medies studeer en die derde oudste, Elsabé het agt onderskeidings behaal. Sy het eers aptekerswese studeer, waarna sy ingeskryf het vir ‘n graad in veeartsenykunde. Annemarie volg nou in die voetspore van haar drie slimkop sussies en begin vanjaar haar studies in wiskunde en informatika om in finansiële wiskunde te spesialiseer. Drie van die vier sussies het of sal uiteindelik hul studies aan die NWU voltooi.

Annemarie is vriendelik en gemaklik wanneer ek haar vir die onderhoud by haar huis besoek. Sy is ‘n skraal, natuurlike skoonheid met lang donker hare en ontmoet my kaalvoet in ‘n kort somerrok by die voorhek. Ons sit gesellig by die kombuistafel en gesels. ‘n Mens kom gou agter dié meisiekind is sonder pretensie en weet wat sy in die lewe wil hê. Die vakke waarin sy onderskeidings behaal het, is Afrikaans huistaal, Engels huistaal, Wiskunde, Alfa Wiskunde Fisies, Rekeningkunde, Lewenswetenskap en Musiek (viool en klavier). Wanneer ek haar vra wat haar gunstelingvak was, huiwer sy net ‘n oomblik voor sy uiteindelik wiskunde kies.

‘n Mens sou nie sommer dink dat iemand wat ‘n voorliefde vir wiskunde het, ook musiek as ‘n agtste vak kies nie. Gewoonlik maak ‘n mens die verkeerde afleiding dat musiek en wiskunde nie noodwendig dieselfde aanleg verg nie, maar dis nie ongewoon dat mense met ‘n wiskundige brein uitstekend met musiek is nie. Dink maar aan komponering en ‘n mens sal saamstem dat analitiese denke hier beslis nodig is. Sy sê juis dele in musiek wat haar roer, prikkel ook haar nuuskierigheid oor die tegniese agtergrond van die musiekstuk. Annemarie se keuse van musiek as ‘n agtste vak sê baie van haar as persoon – nie alleen het sy ‘n analitiese brein nie, maar is sy ‘n goed gebalanseerde persoon wat ook in voeling is met haar emosie en artistieke talente.

Haar geheim tot haar goeie prestasie is oplet in die klas en deurgaanse harde werk. In dieselfde asem erken sy eintlik dat sy nie so lief is vir leer nie en dat sy gewoonlik goed presteer as sy onder druk werk. “Tog het ek die hardste in die eindeksamen geleer wat ek nog ooit tevore geleer het,” bieg sy. Wanneer sy nie werk nie, geniet sy dit om tyd saam met vriende, familie en natuurlik haar kêrel te spandeer. “Ek ontspan ook graag deur na musiek te luister en dokumentêre programme soos Planet Earth te kyk. Ek hou ook van stap en draf en wanneer ek die geleentheid kry, geniet ek kreatiewe skryfwerk,” vertel sy verder.

En haar planne na haar tersiêre opleiding? “Ek wil na my studies ‘n Nagraadse Onderwyssertifikaat-kwalifikasie (NGOS) verwerf wat my uiteindelik in staat sal stel om ‘n onderwyseres te word,” sê sy. Sy glo dat die Here haar geroep het om ‘n bydrae tot die onderwys te maak en sy wil graag ‘n wiskunde onderwyser word. Waaat!? (dink ek nogal hardop). Ek salueer ‘n mens wat nie net aan ‘n vet salarisstrokie aan die einde van die maand dink nie, maar graag ‘n positiewe bydrae tot die samelewing wil maak. Wat kan ‘n meer edel beroep as die onderwys wees? Die spreekwoord sê mos: “’n Goeie opvoeding kan enige iemand verander, maar ‘n goeie onderwyser kan alles verander.”

Exit mobile version