Oud-Volkie skryf boek oor oorlewing en selfverdediging

Lenord le Hanie, ‘n gerekende Krav Maga-afrigter en persoonlike lyfwag, is ‘n oud-Volkie wat na matriek (1983) met sy weermagopleiding genoeg avontuur beleef het om ‘n boek oor oorlewing en selfverdediging te skryf.

Lenord le Hanie, ‘n gerekende Krav Maga-afrigter en persoonlike lyfwag, is ‘n oud-Volkie wat na matriek (1983) met sy weermagopleiding genoeg avontuur beleef het om ‘n boek oor oorlewing en selfverdediging te skryf.

“Who dares lives” is sy memoir wat onlangs vrygestel is. Hierin praat hy oor sy grootwordjare, sy ondervinding as soldaat in die Valskermbataljon en sy ontplooiing by Hoofstafinligting op die Namibiese grens. Hy gee ook wenke oor selfverdediging en hoe jou denkwyse moet wees wanneer jy in gevaar is  – hoe jy analities moet dink en ingestel moet wees op verdediging en oorlewing. (Nogal ʼn goeie handleiding vir stadsjapies in Suid-Afrika).

Le Hanie het ʼn swartgordel in Taekwondo (7de Dan) en as Krav Maga-afrigter is hy, in kort, daardie rowwe bli#sem wat vir James Bond ʼn paar truuks kan leer. Vir diegene, soos ek, wat nie weet wat Krav Maga is nie – dit is ʼn militêre selfverdediging- en vegsisteem wat vir die Israelse Verdedigings- en Sekuriteitsmagte ontwerp is en bestaan uit ʼn kombinasie van tegnieke uit aikido, boks, stoei, judo en karate.

Le Hanie sê dit is belangrik dat oud en jonk lesse in selfverdediging kry. “Hier tel psigologiese voorbereiding (60%) meer as tegniek (40%). Vir ernstiger aanvalle met handwapens en skerp voorwerpe is Krav Maga beslis die antwoord”, sê hy. Hy bied juis kort (3-5ure) Krav Maga-seminare vir beginners aan.

“Met Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer is dit belangrik om by gemeenskapsveiligheid betrokke te raak”, sê Le Hanie wat self van 2005 tot 2015 as ʼn gemeenskapsleier in eBlockwatch in Sasolburg en Vaalpark gedien het. Hy het ook vir Beeld gehelp om ʼn artikel oor gemeenskapsveiligheid saam te stel.

Sy wenke vir veiligheid is om oplettend en waaksaam te wees. Jy moet verkieslik voorkomend optree deur goeie veiligheidstelsels en kwaliteit diefwering en veiligheidshekke te installeer. Skakel ook by ʼn reaksie-eenheid in. ʼn Mens moet ook nooit vreemde gedrag van onbekendes in jou buurt ignoreer nie. Dit is belangrik om ook by jou buurtwag in te skakel of, indien daar nie een is nie, self een te skep.

Lenord le Hanie se boek is by Protea-boekwinkel teen R310 beskikbaar. Vir meer besonderhede oor die Krav Maga-seminare, skakel Le Hanie by 082 894 4924.

Exit mobile version