CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Geliefde maatskaplike werker sterf skielik

Mercia Matau (37), ‘n oud-Puk en briljante maatskaplike werker, is op 2 Februarie weens inwendige orgaankomplikasies oorlede. Sy is Sondag, 7 Februarie in Promosa begrawe.

Dié beeldskone jong vrou wat ook in Promosa gebore en grootgeword het, het vooraf geen tekens van ‘n onderliggende siekte getoon nie, het haar ma, Rose Matau, aan die Herald vertel.

“Sy het aan die begin van Januarie gesê dat sy nie lekker voel nie en dat sy duiselig was. Sy is dokter toe en is in die Helen Joseph Hospitaal in Johannesburg opgeneem,” sê Rose. Volgens die dokters het sy vog op haar niere en longe gehad.

“Ons is steeds verdwaas oor haar afsterwe,” sê Rose, wat nog die oggend van haar dood met haar oor die telefoon gepraat het. “Sy het nog gesê sy voel beter en dat die dokters baie tevrede is met haar herstel en dat sy vermoed sy gaan binnekort ontslaan word.” Haar broer, Windsor Matau, sê sy het nog met haar drup in die saal rondgeloop en ‘n video-oproep op haar selfoon gemaak. “Sy het gesê dat sy haar bene wil rek omdat sy nie so lank kon lê nie,” vertel Windsor. Hy het ook bevestig dat sy nie Covid-19 gehad het nie en dat die verpleegpersoneel net so geskok soos die familie was toe Mercia so skielik dood is.

Met Mercia se begrafnis het haar vriende van regoor die land gekom om hulde aan hulle vriendin te bring. Sy was besonder geliefd in Promosa en mense onthou haar vir haar spontane en vriendelike geaardheid wat almal om haar altyd aangemoedig en opgebeur het.

Haar pa, Uncle Fish, sê ook dat sy ‘n baie reguit persoon was, wat nie doekies omgedraai het oor dit wat reg en verkeerd is nie. “Sy het baie kinders in die gemeenskap gehelp om in rehabilitasiesentrums teen dwelmisbruik opgeneem te word,” vertel Rose. Mercia was ‘n skrander leerling op skool en het in 2002 haar matriek aan Promosa Sekondêr met onderskeidings geslaag en ‘n toekenning as top 10 akademiese leerling in die Noordwes Provinsie ontvang.  

Mercia Matau met toekennings was sy as leerling van Promosa Sekondêr vir die top 10 akademiese leerling in die Noordwes Provinsie ontvang het. Foto: Verskaf

Daarna het sy haar kwalifikasie as maatskaplike werker aan die Noordwes-Universiteit ontvang. Sy was dinamies en ambisieus en het verdere kwalifikasies verwerf waaronder ‘n honneursgraad in sielkunde en ‘n meestersgraad in terapie.

Sy was geregistreer as ‘n maatskaplike werker by die Suid-Afrikaanse Mediese Regsvereniging en die Raad van Befondsers vir Gesondheidsorg. In 2008 het sy as maatskaplike werker in Potchefstroom begin werk en is daarna na Bothaville en Ventersdorp oorgeplaas, waarna sy bevorder is na die Suid-Afrikaanse hooggeregshof waar sy uiteindelik as mediator in egskeidings- en familiesake opgetree het.

Daarna het sy ‘n privaatpraktyk as mediator geregistreer. In 2020 was sy ‘n stigterslid van Counselling Johannesburg waar sy in gesinsgeweld, dwelmmisbruik, egskeiding en gesinsbemiddeling gespesialiseer het.

Mercia met haar gradeplegtigheid. Foto: Verskaf

Mercia laat haar lewensmaat Elwin Mosale, haar dogter, Dillion Mosale (5), haar ouers, Desmond (65) (Uncle Fish) en Rosaline (62) (Aunty Rose) Matau asook haar broer, Windsor Matau (31) agter.

Related Articles

Back to top button