CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Stortingsoorlog binnekort dalk op ‘n einde

Nadat die munisipale bestuurder, hoof finansiële beampte en omgewingsbeampte van die JB Marks munisipaliteit Woensdagoggend met betogers wat naby die stortingsterrein woon, onderhandel het, sal die pad na die stortingsterrein waarskynlik teen Saterdag weer oopgemaak word.

Nadat die munisipale bestuurder, hoof finansiële beampte en omgewingsbeampte van die JB Marks munisipaliteit Woensdagoggend met betogers wat naby die stortingsterrein woon, onderhandel het, sal die pad na die stortingsterrein waarskynlik teen Saterdag weer oopgemaak word.

Die burgemeester en drie mans het ook die stortingsterrein Woensdagoggend self besoek. Vir die afgelope twee weke word afval in Potchefstroom nie opgelaai nie omdat betogers die roete na die stortingsterrein versper. Inwoners is woedend omdat die stad self soos ‘n stortingsterrein lyk met geskeurde vullissakke wat oral op sypaadjies ophoop.

Die inwoners wat naby die stortingsterrein woon, is egter min gepla, want hulle het genoeg gehad van die munisipaliteit wat hulle nie steur aan die huidige kontrakteurs, Ingwe Waste Management, wat sedert einde verlede jaar niks meer by die stortingsterrein doen nie.

Papi Khambule is een van die inwoners wat in ‘n informele nedersetting op pad na die stortingsterrein woon. Hy is een van die groep wat die pad na die stortingsterrein versper. Volgens hom is dit die enigste manier om die munisipaliteit te dwing om aan die stortingsprobleem aandag te gee.

Papi Khambule en ander inwoners keer hier dat voertuie nie na die stortingsterrein toe kan ry nie. Foto: Venessa van der Westhuizen

Khambule het die Herald na die terrein geneem om te wys hoe die hope afval langs die pad en buite die hekke opgehoop lê. Dit is skokkend om die toneel te aanskou met afval wat vir bykans 1,5 km buite die hekke langs die pad lê. Baie van die afvalhope slaan spontaan aan die brand en die hope brandende en rokende vullis lyk soos tonele uit ‘n apokaliptiese wetenskapsfiksiefilm.

Wanneer jy uit jou voertuig klim, is dit onmoontlik om die swerms vlieë wat op jou toesak, te keer. Een van die 11 werkers wat aangestel is om by die stortingsterrein te werk, sê dat hulle sedert einde verlede jaar glad nie werk het om by die stortingsterrein te verrig nie. Hulle meld aan vir werk en sit net rond om weer laatmiddag huis toe te gaan. Hulle grootste uitdaging is om die swerms vlieë van hulle lywe af te hou.

Smeulende vullishope lê vir 1.5 km langs die pad buite die stortingsterrein nadat Ingwe sedert einde verlede jaar nie meer by die stortingsterrein werk nie. Foto: Venessa van der Westhuizen

“Dit is verskriklike omstandighede om in te werk, maar ons daag op omdat ons darem ‘n salaris ontvang,” kla die werker.

Khambule beweer dat Ingwe ‘n kontrakteur van Limpopo is en dat hy onder meer nie die regte toerusting het om die vullis te kompakteer nie. Hy sê dat werkers van Ingwe aan hom vertel het dat die maatskappy sedert einde verlede jaar nie betaling van die munisipaliteit ontvang nie en daarom nie meer die spesiale toerusting kan huur nie.

“Hulle het onlangs gekom om een van die vullistrokke na Limpopo terug te neem,” sê hy. “Ons wil die munisipaliteit dwing om ‘n ander kontrakteur aan te stel wat die stortingsterrein beter sal bestuur. Ons onderhandel tans met die munisipaliteit, maar intussen is die pad gesluit totdat ons ‘n ooreenkoms kan bereik. Slegs die kontrakteurs wat besig is om vullis langs die pad op te ruim, word toeglaat om die stortingsterrein te besoek.

Intussen het Khambule die Herald Woensdagoggend meegedeel dat die burgemeester, die munisipale bestuurder, die hoof finansiële beampte en die bestuurder van omgewingsake planne voorgestel het om die stortingsprobleem op te los. Een van die planne is dat die JB Marks munisipaliteit self ‘n kompakteerder gaan huur. Khambule sê egter indien die beloftes nie nagekom word nie, sal die pad nie oopgemaak word nie.

Toe die Herald ‘n werknemer van Ingwe in Potchefstroom, Botha Kanye, genader het met vrae rondom Ingwe se kontrak met die munisipaliteit, wou hy nie sy posbeskrywing aan die Herald bekend maak of Ingwe hoofkantoor se kontaknommer verskaf nie. Volgens hom het Ingwe opdrag gegee dat alle navrae slegs aan die munisipaliteit gerig word.

Jeanne Adriaanse, ‘n DA raadslid van JB Marks munisipaliteit, wat probeer het om aandag aan die stortingsprobleem te skenk, sê dit is belangrik dat inwoners moet verstaan dit is nie die munisipale werkers wat staak nie. Dit is ook nie die eerste keer dat die munisipaliteit probleme met Ingwe het nie. “Ek is bekommerd oor die gebrek aan dienslewering, maar ook die gesondheidsnagevolge wat die vullisstortings en gebrek aan vullisverwyderingsdienste op die ekosisteem en inwoners van die dorp as ‘n geheel het. Dít terwyl ons reeds ten sterkste bewus is van Covid regulasies en die gevolge daarvan en die siekte self,” sê sy.

Related Articles

Back to top button