CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Rekeningfout laat bloed kook

‘n Munisipale waterrekening van R108 115.25 is genoeg om enige iemand in ‘n papiersak te laat asemhaal, maar om steeds na ‘n maand te sukkel dat die probleem opgelos word, is genoeg om jou bloed te laat kook.

‘n Munisipale waterrekening van R108 115.25 is genoeg om enige iemand in ‘n papiersak te laat asemhaal, maar om steeds na ‘n maand te sukkel dat die probleem opgelos word, is genoeg om jou bloed te laat kook.

Dit is presies hoe Herman du Preez voel nadat hy in November die verrassing van ‘n waterrekening van  R108 115.25 gekry het. Sy nagmerrie-ondervinding om die regstelling op sy rekening te doen, sal jy nie jou grootste vyand wil toewens nie.

Nadat hy die stywe rekening op 5 November ontvang het, het hy verskeie e-posse aan verskeie werknemers gestuur om die probleem op te los. Die kommunikasieproses het op 5 November begin toe Herman die fout op sy rekening per e-pos aan ‘n baie behulpsame werknemer by die JB Marks Munisipaliteit uitgewys het.

Sy (werknemer 1) het dieselfde dag na hom teruggekom en dit na werknemer 2 verwys. Werknemer 2 het op sy beurt eers nege werksdae daarna (17 November) terugvoer aan Herman gegee, wat dit weer op dieselfde dag na werknemer 3 toe verwys het. Nadat nog nege werksdae verbygegaan het en Herman niks van werknemer  3 gehoor het nie, het hy weer vir werknemer 1 ‘n e-pos gestuur om te sê dat hy nie voorafbetaalde krag vir sy huis kan koop as die fout op sy rekening nie opgelos word nie. Die munisipaliteit vat 95% van die bedrag wat aangekoop word, wat dan gaan om die skuld te vereffen.

Intussen het die munisipale kantore op 27 November weens Covid-19-gevalle wat die gebou besoek het, gesluit sodat dit eers gesaniteer moet word. Die kantore het eers weer op 7 Desember vir die publiek oopgemaak.  Op 3 Desember het werknemer 1 toe vir werknemer 4 gekontak wat Herman se rekening tydelik “oopgestel” het om vir die volgende maand krag te kan koop. Intussen het werknemer 1 weer aan al die vorige werknemers ‘n e-pos gestuur en hulle versoek om aan die rekeningprobleem aandag te gee en teen Maandag, 7 Desember terugvoering aan Herman te gee. Herman het later self die probleem met sy rekening agtergekom en dit aan die werknemers per e-pos gekommunikeer, maar het teen Dinsdag, 8 Desember nog geen terugvoering ontvang nie.

nwu afr

Nadat die Herald hierdie ingewikkelde verloop van kommunikasie aan die woordvoerder van die munisipaliteit, William Maphosa, gestuur het en gevra het waarom probleme met rekeninge nie op ‘n eenvoudiger manier uitgesorteer kan word nie, het die Herald teen Woensdag, 9 Desember vanaf verskeie oorde verduidelikings ontvang.

Werknemer 3 wat die hele tyd geen terugvoering gegee het nie, het as volg verduidelik: “Die joernaal (rekening?) was gedoen op 11 November, maar as gevolg van ‘n fout in die sisteem was dit nie goedgekeur nie. Ek wil hiermee verskoning maak dat ek nie vroeër terugvoering gegee het nie, maar dit was weens die Covid-gevalle en die feit dat die kantore in die eerste week van Desember gesluit was. Ons erken ons fout en vra om verskoning vir die ongerief.”

Die Herald het ook verneem dat ‘n betrokke werknemer sedert 1 Desember in die vakante pos as toesighouer oor die meters en meterlesers aangestel is. Dié pos was vir die afgelope vier jaar vakant. Mnr. Maphosa het namens die munisipaliteit verskoning gevra vir Herman se ongerief en wat hy alles moes deurmaak.

Teen Woensdag, 9 Desember het Herman sy nuwe rekening ontvang en is die probleem uitgesorteer waarvoor hy baie dankbaar was.

Inwoners moet daarop let dat die inkomstekantore gedurende die feestyd die gewone ure sal oop wees, behalwe vir 24 en 31 Desember wanneer dit onderskeidelik om 13:00 en 12:00 sal sluit.

Maphosa het die volgende lys van kontaknommers uiteengesit sodat inwoners wat klagtes rondom hulle rekeninge het, hulle kan kontak: kmothebe@jbmarks.gov.za (018) 299 5179; neob@jbmarks.gov.za (018) 299 5137; macgyverc@jbmarks.gov.za (018) 299 5565; hildahs@jbmarks.gov.za (018) 299 5189; mavisk@jbmarks.gov.za (018) 299 5222; vincents@jbmarks.gov.za (018) 299 5139); mphod@jbmarks.gov.za (018) 299 5188.   

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button