CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Twee plaasaanvallers gevonnis

Twee plaasaanvallers wat deel was van ‘n groep van drie mans wat Conrad Beukes (72) op 23 Maart 2017 in sy plaashuis op die Roodekraalpad suid van Potchefstroom aangeval het, is in November gevonnis.

Twee plaasaanvallers wat deel was van ‘n groep van drie mans wat Conrad Beukes (72) op 23 Maart 2017 in sy plaashuis op die Roodekraalpad suid van Potchefstroom aangeval het, is in November gevonnis.

Gamiki Isaac Kutoane (37) en Sello Daniel Matome (53) van Ikageng is op sewe aanklagte skuldig bevind en is elk twintig jaar tronkstraf gevonnis. Lt.kol. Pelonomi Makau het destyds vertel dat die huishulp en haar seun drie gewapende mans in die erf gesien het, waarna hulle in die huis gevlug het.

Een van die verdagtes het die deur oop forseer,  in die huis ingegaan en vir Beukes in sy kamer oorval,” het Makau gesê.  Die getuienis was dat Tiisetso Ernest Msibi met ‘n vuurwapen in Beukes se slaapkamer ingekom het waar Beukes gelê en rus het omdat hy nie lekker gevoel het nie. Dit was omstreeks 08:00 die oggend. Hy was reg langs Beukes se bed waar daar toe ‘n struweling ontstaan het. Die aanvaller het Beukes met die vuurwapen geslaan. Die dokter se mediese verslag het verskeie kneuswonde aan Beukes se liggaam, gesig en arms bevestig.

Beukes het sy vuurwapen gekry wat aan die anderkant van sy bed was en hy het na die oorledene geskiet en hom noodlottig in sy gesig gewond. Die polisie het die oorledene op Beukes se bed aangetref met ‘n selfoon wat aan een van die ander twee beskuldigdes behoort het.

Volgens die staatsaanklaer, Adele Horn, is Kutoane en Matome skuldig bevind aan sameswering met die opset om roof met verswarende omstandighede te pleeg, moord (opset by moontlikheidsbewussyn), aanranding met die opset om ernstig te beseer, huisbraak met die opset om te roof, die rig van ‘n vuurwapen, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Horn sê dit was duidelik uit die getuienis dat hierdie misdade baie deurdag vooraf beplan was. Dit is  veral deur Kutoane en Matome bevestig direk na hulle arrestasie toe hulle verklarings, sonder enige dwang, aan senior SAPD-lede afgelê het.

Horn is bly dat reg en geregtigheid geskied het. “Hartlike dank aan die ervare ondersoekbeampte, ao. Kevin Pretorius wat die staat se saak teen beide beskuldigdes bo redelike twyfel kon bewys.” Beukes, wat al 25 plaasaanvalle op die familieplaas Prinsloo’s Rust oorleef het, het die plaas intussen verkoop en woon nou in Potchefstroom.

“Ek is verlig oor die vonnis en het dorp toe getrek omdat ek gedink het dit is veiliger hier. Tog kan jy misdaad nêrens vryspring nie, want die sonpanele op my dak en dele van my fiets is ook al gesteel,” sê hy.

nwu afr

Related Articles

 
Back to top button