CommunityNewsNewsPhoto Galleries

‘Ons familie is verpletter, stukkend,’ sê ma

ʼn Geliefde en skrander graad-11 Volkie-leerling is vroeg Saterdagoggend (5 Desember) oorlede.

“Jy weet nie hoe jy more gaan opstaan en aangaan nie. Ek wil nie eers aan volgende week dink nie,” vertel Linda Brauckmann, ma van ʼn geliefde en skrander graad-11 Volkie-leerling wat vroeg Saterdagoggend, 5 Desember, drie dae na sy 18de verjaarsdag, in die Mediclinic Hospitaal in Potchefstroom oorlede is.

Michael Brauckmann, en vier ander vriende was in ‘n ernstige motorongeluk betrokke. Michael, beter bekend as Boeta was vanaf graad-8 ʼn inwoner van Jack Pauw-koshuis by Volkies. Volgens Linda, het hy en sy vier vriende wat almal graad-11 Volkie-leerlinge is, Vrydagmiddag by die Rietspruitdam gaan visvang. Sy het Vrydagaand om 22:50 ʼn oproep van een van die vriende ontvang wat gesê het dat hulle in ʼn ongeluk was en dat nooddienste reeds op pad was. “Ons het die ligging van die ongeluk op ons foon ontvang en was so bevoorreg om die ambulans langs die pad te kry. Ek het saam met Michael in die ambulans tot by die hospitaal gery en het kans gehad om met hom te praat en vir hom te bid”, vertel sy.

“Michael het ernstige beserings opgedoen en die dokters by die Mediclinic in Potchefstroom wou hom eers stabiliseer voordat hy met ʼn noodhelikopter na ʼn ander hospitaal vervoer sou word. Hulle het ons later rondom 01:30 meegedeel dat hy gesterf het.” Drie van die vriende het ligte beserings opgedoen terwyl een van die vriende tans in die hoësorgeenheid van Life Anncron hospitaal in Klerksdorp aansterk. Sy toestand is stabiel.

“Ons familie is verpletter, stukkend. Dit is die seerste seer wat jy aan iemand kan beskryf,” sê ‘n baie hartseer, maar kalm en beheersde ma. Sy vertel dat sy en haar man innig dankbaar is vir die liefdevolle ondersteuning van die ouers, onderwysers en lede van die beheerliggaam wat saam met hulle by die hospitaal gebly het toe Michael opgeneem is. “Ons het die Volkie-familie eerstehands ervaar, vertel sy.”

Linda vertel dat sy nie kan glo hulle kind was so geliefd nie. “Hy was ʼn amazing besonderse, hardwerkende en liefdevolle mens, maar ek kan nie glo dat hy soveel mense se lewens aangeraak het nie.” Michael was van kleins af ʼn leier en was die hoofseun van Laerskool Dagbreek op Carletonville. Hy was ʼn goeie tennisspeler en was avontuurlustig soos sy pa. Hy en sy broer het elke jaar gaan jag, hy was lief vir perdry en het baie graag vis gevang.

“Hy was ʼn kind van die Here wat twee weke gelede sy geloofsbelydenis afgelê het. Dit was vir my so ʼn troos toe ek sy Bybel deurgaan en ʼn handgeskrewe teksvers van Psalm 23 kry wat iemand op ʼn kamp vir hom geskryf het – dieselfde vers wat met sy belydenisaflegging aan hom toegeken is”, sê Linda.

Vir haar is dit so ‘n mooi teksvers: “Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is lei Hy my heen…” Michael (Boeta) laat sy pa, Danie, sy ma, Linda en sy broer, Tristian (22) agter. Sy troosdiens word Maandag, 14 Desember om 11:00 vanuit die NG Kerk, Carletonville waargeneem. Weens Covid-19-reëls word mense beperk en sal slegs vriende en familie op uitnodiging die diens mag bywoon.

Related Articles

 
Back to top button