CommunityLifestyleNewsNewsPhoto Galleries

Skoonmaakprojek verskaf werk aan haweloses

‘n Gemeenskapsondersteuningsprojek wat nuwe planne maak om die stad skoon te hou, verskaf tans werk aan vyf hawelose mense.

‘n Gemeenskapsondersteuningsprojek wat nuwe planne maak om die stad skoon te hou, verskaf tans werk aan vyf hawelose mense.

CleanUp Together het in 2019 ontstaan toe ‘n groep mense besluit het om Saterdae bymekaar te kom en vuil dele in die stad op te ruim. Die groep, onder leiding van Hannes du Plessis, het eers as CleanUp Potch bekend gestaan en het op vrywilligers staat gemaak om elke tweede Saterdag te vergader en ‘n spesifieke area in die stad skoon te maak.

Hannes het gewoonlik aan die vrywilligers ‘n paar dae voor die tyd ‘n WhatsApp-boodskap gestuur om die plek waar opgeruim moet word, aan te kondig. ‘n Herwinningsmaatskappy, Pick-up Waste, het aan die einde van die opruimingsessie weer die asbliksakke versamel om die rommel verder te herwin.

Volgens Hannes was die groep aanvanklik begeester, maar die lede het later aansienlik minder geword omdat hulle naweke self ook besig was. “’n Vriend van my, Christo Smit, het later vir die werklose mense wat op die stoep by die Landdros- Pos- en Telegraafkantoor geslaap het, gevra of hulle deel van die opruimspan wil word en hulle het ingestem. Dit is hoe ek die hawelose mense ontmoet het,” vertel Hannes.

Hannes sê die haweloses het gou deel van die opruimspan geword en het dit waardeer om ingesluit te word omdat dit vir hulle gevoel het hulle beteken iets. Hoewel hulle geweet het hulle gaan nie finansieel vir die optel van vullis vergoed word nie, het hy tog uit sy eie sak vir die haweloses wat gehelp het elke keer R50 gegee. Hulle het dit baie waardeer.

Hannes het later twee vriende, Roy Byers en Stefan Wilson, by CleanUp Together betrek. Dié drie het met die briljante plan vorendag gekom om ‘n fiets wat ‘n sleepwaentjie trek, te ontwerp sodat die skoonmakers gemakliker en vinniger kan rondbeweeg. Die sleepwaentjie word met ‘n sak uitgevoer waarin rommel gegooi word.

Meer mense het begin belangstel en kort voor lank het die Potchefstroom Sakekamer, Cachet Park CID, Trots Potch, sommige kerke en private huishoudings finansiële steun aan die projek verleen. Dit het CleanUp Together in staat gestel om daagliks drie skoonmakers in Van der Hoff Park aan te stel om skoon te maak.

Twee fietsryers is ook permanent in Baillie Park ontplooi. Hulle ry elke dag met hulle fietse om rommel in strate op te tel en areas soos parke skoon te hou. Roy en Stefan is in die proses om besighede te nader wat van die diens gebruik wil maak. Teen slegs R50 per maand kan huishoudings ook aansoek doen dat die fietsryers herwinbare afval (plastiek, papier, blikkies, glas) een keer per week by hulle huise oplaai.

“Die grootste probleemarea wat besoedeling aanbetref, is in die sentrale deel van die stad en rondom besighede,” sê Stefan. As ons hulle kan oorreed om donasies vir die CleanUp Together skoonmaakdiens te gee, kan ons aan meer haweloses werk verskaf,” sê hy. Die fietsryers wat rondry en opruim neem na die tyd die rommel na ‘n kerk in Van der Hoff Park en  Baillie Park waar hulle dit sorteer. Dié gesorteerde rommel word dan weer deur ‘n herwinningsmaatskappy opgelaai.

Die manne van CleanUp Together is van links: Ernest Lephoi, Paul Mmolaiwa, Koos Chauke en Jantjie van der Bijl. Foto’s: Venessa van der Westhuizen

Jantjie van der Bijl, wat voorheen werkloos was, is baie trots op sy bydrae by CleanUp Together. Hy is tans in beheer van die vloot fietsryers wat gereeld bymekaar kom om hulle werkskedule te bespreek. Volgens Hannes trek slegs die haweloses voordeel uit die finansiële bydraes. Die ander mense wat by die projek betrokke is, wil graag ‘n verskil in die gemeenskap maak en toesien dat haweloses vir hulself kan sorg. Huishoudings en besighede wat graag betrokke wil raak en van CleanUp Together se dienste gebruik wil maak, kan Stefan Wilson by (018) 290 7113 of 083 389 0474 skakel.

Jantjie van der Bijl by een van die groot sakke waarin die herwinbare produkte gesorteer word. Die herwinningsaanleg is by die Duet-gemeente in Van der Hoff Park. Foto: Venessa van der Westhuizen

nwu afr

Related Articles

 
Back to top button