CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Geliefde skoolhoof tree na 42 jaar uit die onderwys

Na 42 jaar in die onderwys, tree die hoof van Woel en Werskaf kleuterskool, Annelies Jacobs, af. Sy werk nog net tot einde Januarie 2021, die maand waarin sy amptelik haar aftree-ouderdom bereik.

Na 42 jaar in die onderwys, tree die hoof van Woel en Werskaf kleuterskool, Annelies Jacobs, af. Sy werk nog net tot einde Januarie 2021, die maand waarin sy amptelik haar aftree-ouderdom bereik.

“Ek is baie bly dat daar ‘n strepie in my loopbaan getrek word, anders het ek nooit afgetree nie. Ek hou te veel van my werk,” sê ‘n juffrou wat nie kan glo dat die tyd so vinnig verbygevlieg het nie.

Sy vertel dat sy en haar man Ruben, voormalige skoolhoof van Laerskool Mooirivier, planne het om bietjie meer vakansie te hou saam met haar goeie vriendin, Ansa Venter en ook meer tyd saam met hulle drie dogters en sewe kleinkinders te spandeer.

Annelies bly sedert haar studentejare in Potchefstroom, maar het as stadsjapie grootgeword. Hulle gesin het in Germiston gewoon waar sy haar skoolloopbaan voltooi het. Sy het eers ‘n jaar na skool as administratiewe assistent in rekenaarkodering gewerk voordat sy besluit het om onderwys by die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege te studeer. Dit is ook waar sy later haar man ontmoet het. “Na die jaar by die ingenieursfirma het ek geweet ek wil eerder met mense werk en het later my plek in pre-primêre onderwys ontdek,” vertel sy.

Na haar studies het sy ‘n permanente aanstelling by Kekkel en Kraai kleuterskool gekry en na slegs drie jaar onderwyservaring was die onderwysinspekteurs destyds so beïndruk met haar dat hulle Annelies as hoof van die nuwe kleuterskool in Bailliepark, Woel en Werskaf, aanbeveel het. “Dit was ‘n groot besluit en ek was in die diepkant ingegooi, maar my ouers en my man het my aangemoedig om dit te aanvaar,” sê Annelies. Sy was dus vir 39 jaar die skoolhoof by Woelies.

Dit is baie duidelik dat die onderwysers by Woelies net die grootste agting vir dié ervare skoolhoof het, want hulle wil die laaste tydjie wat sy nog by die skool is, ekstra spesiaal vir haar maak. En wanneer jy met die stylvolle, saggeaarde vrou gesels, besef jy waarom sy so geliefd is. Jy besef weer eens dat onderwys, maar veral pre-primêre onderwys, ‘n roeping is.

“Informele onderwys het baie meer uitdagings as wat mens besef, veral in die Covid-19-tydperk waarin ons ons tans bevind. Dit verg baie kreatiwiteit om die kinders met al die nuwe regulasies steeds aan te moedig om sorgvry te speel en te leer,” sê Annelies. Vir haar is dit die belangrikste dat voorskoolse kinders nog baie moet speel, want dit is hoe hulle leer.

Jy staan verstom oor al die slim planne wat die onderwysers uitgedink het om afstands- en saniteringsmaatreëls te gehoorsaam. Annelies vertel dat die onderwysers blokke in hulle klasse op die mat afgemerk het sodat elke leerling presies weet waar hulle moet speel en werk. Dié blokke was aanvanklik presies 1.5 meter van mekaar gemerk wat beteken het dat slegs 15 kinders op ‘n slag in die klas kan wees.

Omdat daar 30 kinders in elke klas is, moes hulle in groepe verdeel dat groep-A een week skool toe gaan en groep-B weer die volgende week. Soos inperkingsreëls minder streng geword het, het onderwysers die blokke op die mat 1 meter uitmekaar geskuif wat beteken het dat meer kinders nou kon skool toe kom. Daar is dus nou drie groepe van 10 elk. Twintig kinders kan nou op ‘n slag in die klas wees, wat beteken dat twee groepe op ‘n slag nou by die skool kan wees. Die drie groepe maak dan beurte sodat kinders nou twee weke by die skool is en net vir een week by die huis moet wees.

“Ek kan nie wag dat al die kinders weer almal gelyk by die skool kan wees nie. Dit is vir nuwe kinders by die skool veral moeilik om in sulke omstandighede aan te pas waar hulle nie gereeld skool toe kan gaan nie,” sê sy.

Op die speelterrein is daar ook slim planne beraam dat al die kinders geleentheid kry om met verskillende speelapparaat te speel. Hulle word in groepe verdeel dat een groep byvoorbeeld fietsry, terwyl die ander groep op die klimapparaat speel. Wanneer groepe ruil, word die apparaat eers gesaniteer voordat die volgende groep dit kan gebruik.

Annelies spot dat een van hulle ouers een keer na ‘n kleuterskool as georganiseerde chaos verwys het. “Dit was vir my so goed opgesom, want dit is presies wat kleuterskoolonderwys is – georganiseerde chaos,” lag sy. In hierdie georganiseerde chaos het mens spesiale onderwysers nodig om kop te hou.

Vir Annelies is die ideale kleuterskooljuffrou iemand wat van elke geleentheid ‘n leergeleentheid maak. “’n Goeie juffrou is geduldig en dra goeie waardes aan die kinders oor. Hulle stel ‘n voorbeeld in netheid, pligsgetrouheid en respek teenoor ander.” Vir haar is dit verder belangrik dat ‘n kleuterskooljuffrou georganiseerd moet wees en goeie dissipline moet kan handhaaf sonder om te skree.

“Bo alles moet hulle ‘n liefde vir kinders hê, belangstelling in hul doen en late toon, hulle uitvra en met hulle gesels,” beklemtoon Annelies. Dit is juis hierdie emosionele warmte wat Annelies so spesiaal in kleuterskoolonderwys gemaak het. Carl Jung, bekende psigoanalis, het die belangrikheid van emosionele toereikendheid ook in goeie onderwysers raakgesien toe hy gesê het: “‘n Mens kyk met waardering terug na die briljante onderwysers, maar met dankbaarheid na onderwysers wat gevoelens raakgesien het … warmte is die belangrikste element vir ‘n groeiende plant en die siel van ‘n kind.”

nwu afr

Related Articles

 
Back to top button