CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Vandaliste verinneweer en plunder begraafplaas

Inwoners wat onlangs die nuwe begraafplaas in Gaisfordstraat besoek het, is geskok oor die haglike toestand waarin dit tans is.

‘n Inwoner wat twee weke gelede die nuwe begraafplaas in Gaisfordstraat besoek het, was geskok toe hy sien in watter gehawende toestand dit is.

Lourens de Jager en sy seun Arnu (15) het die graf van Arnu se ma, Marné Olivier, besoek om dit skoon te maak toe hy oplet dat die metaal naambordjie op haar graf verdwyn het.  Sy vriendin, wat die graf van haar pa besoek het, kon ook nie sy naambordjie kry nie. Hulle het opgelet dat naambordjies van sowat 40 grafte in daardie gedeelte van die begraafplaas weg is.

Die metaal naambordjie van Marné Olivier is gesteel. Meer as 40 naambordjies is in dié gedeelte van die begraafplaas gesteel. Sommige bordjies is by ‘n skrootwerf in Potchefstroom opgespoor. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die naambordjies dui die besonderhede van die oorledenes aan en word op die grafte geplaas om dit vir familielede maklik te maak om die grafte te vind. Lourens sê dat die naambordjies die grafte merk omdat grafstene nie dadelik op ‘n graf geplaas kan word nie. Volgens praktyk moet die grond eers sak en kompakteer voordat ‘n grafsteen opgerig kan word.

Behalwe vir die oorgroeide grafte, is die omheining naby die treinspoor ook beskadig en plek-plek gebrand, wat dit maklik maak vir kwaaddoeners om in die terrein te kom. “Ek was so verbaas om die begraafplaas se kantoor in so ‘n toestand te sien,” het Lourens hierdie week aan die Herald gesê. “Twee weke gelede was die kantoor nog in ‘n werkende toestand en nou is daar net ‘n murasie oor – die dak en die deure is afgesteel.”

Die kantoorgebou by die begraafplaas se dak en deure is afgesteel. Foto: Venessa van der Westhuizen

Asof dit nie genoeg is nie, lê daar ‘n groot hoop grond reg voor die ingang in die middel van die pad. Dit versper die pad en voertuie moet ‘n ompad in die veld ry om by die begraafplaas in te kom.

Die hoop grond in die middel van die pad is gegrawe om die rioolprobleme by die kantoor op te los. Dit versper die toegang tot die begraafplaas maar die gat moet eers droog word voordat dit weer herstel kan word. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die Herald het aan die mediawoordvoerder van die J.B. Marks munisipaliteit, William Maphosa, gevra waarom die begraafplaas in so ‘n toestand is. Hy het in ‘n verklaring gesê dat vandalisme in Potchefstroom ‘epidemiese proporsies’ aangeneem het en dat ‘n klag van diefstal en inbraak drie maande gelede by die polisie aangemeld is.

“Die polisie het die betrokke skuldiges aangekeer. Gesteelde goedere is ook by ‘n plaaslike skrootwerf gevind. Die meeste van die skade is tydens die inperkingstyd aangerig omdat daar minder beweging in die gedeelte van die stad was,” sê Maphosa.

Hy het verder verduidelik dat die hoop grond in die middel van die pad toe te skryf is aan herstelwerk aan die rioolsisteem wat in duie gestort het. Maphosa sê die rioolprobleem is nou opgelos, maar dat die gat in die pad eers heeltemal moet droog word voordat dit weer gevul en geteer kan word.

Hy het voorts gesê die munisipaliteit het ‘n versekeringseis ingedien om die omheining en geplunderde kantoor te herstel en dat ‘n sekuriteitsdiens met die nuwe begroting aangestel gaan word om die begraafplaas 24 uur op te pas. “Vandalisme is ‘n groot uitdaging waarmee die munisipaliteit tans worstel. Ons kan ongelukkig nie die oorlog wen sonder die noue samewerking van die gemeenskap en verantwoordelike organisasies in ons gemeenskap nie,” sê Maphosa.  

nwu afr

Related Articles

 
Back to top button