Local newsNewsNews

PAWS se gholfdag ‘n sukses maar diere het steeds hulp van gemeenskap nodig

Die bestuurder van PAWS, Herman van der Sluis, het genoem dat die gholfdag ‘n groot sukses in terme van ondersteuning en borgebetrokkenheid was, maar dat daar steeds ‘n groot finansiële tekort by hulle diereskuiling is.

Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) se 13de gholfdag was te midde van ‘n moeilike jaar, een van die gholfdae wat nog die beste ondersteun is.

Hierdie jolige en belangrike byeenkoms op PAWS se kalender is Vrydag, 20 November by die Potchefstroom Buiteklub gehou met die doel om fondse vir die diere by PAWS in te samel.
34 spanne het vir die gholfdag ingeskryf met ‘n totaal van 136 deelnemers wat die dag op die grasgroen en goedversorgde baan geniet het.

Die bestuurder van PAWS, Herman van der Sluis, het genoem dat die gholfdag ‘n groot sukses in terme van ondersteuning en borgebetrokkenheid was, maar dat daar steeds ‘n groot finansiële tekort by hulle diereskuiling is.
Hy bedank ook die Potchefstroom Buiteklub en al die borge wat ‘n aandeel in die sukses van die dag gehad het.

“Ek wil in besonder vir ons hoofborg, Daisy Business Solutions, dankie sê wat ons gholfdag vir die vyfde jaar borg. Die mense het die musiek van die band, Spoken Two, baie geniet. Ons het ook vir Johnny Snowball gehad wat die musiek verskaf het,” noem hy.

Van der Sluis is dit ook eens dat daar steeds baie werk is om die welstand van die diere te verseker en dat donasies en hulp van die gemeenskap steeds broodnodig is – nou meer as ooit na ‘n rowwe inperking.

“Ons het nog nie genoeg om al ons finansiële tekorte te dek nie en baie van die geld wat ons met die gholfdag gemaak het, het ons gebruik om van die rekenings te betaal. Ons het steeds ‘n baie groot behoefte in hierdie moeilike tyd.”

Volgens Van der Sluis moet die J.B. Marks Munisipaliteit ook nog geld vir PAWS betaal soos wat die vooropgestelde kontrak bepaal.

“J.B. Marks is nou onder administrasie en dit maak dit moeilik omdat ons vir die afgelope twee maande nie geld van hulle ontvang nie.

“Ons behoeftes is veral hondekos, komberse, waspoeier vir die komberse en handskoene vir veeartse. Dit is eintlik ‘n ellelange lys,” noem Van der Sluis.

Hy noem ook dat baie van PAWS se agterstallige skuld te doen het met die feit dat hulle alle diere wil help, veral die wat siek is, soms sonder betaling.

“Ons het baie uitgawes en baie skuld, maar ons help mense in die stad en gaan dan skuldooreenkomste aan. Baie mense kan nie die mediese kostes betaal nie.

“In effek verloor ons dan die geld en so is ons konstant op ‘n agterstand. Die veeartse moet ook betaal om die nodige medikasie te koop. Ons weier volstrek om diere weg te wys wat siek is. Ons glo dat elke dier gehelp moet word.”

“Ons is baie dankbaar vir die gemeenskap van Potchefstroom wat ons ondersteun. Hulle staan ons altyd goed by,” sê Van der Sluis.

Related Articles

 
Back to top button