Local newsNewsNews

Potch dop Afriforum se rioolwatertoets

Volgens AfriForum se groendruppeluitslae voldoen 20 rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is in Noordwes, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie.

AfriForum het van Augustus tot Oktober 2020 verskeie dorpe in Noordwes, insluitend Potchefstroom se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.

Dié projek was vanjaar belangriker as ooit weens die COVID-19-pandemie en navorsing wat toon dat dié virus in rioolstelsels opgespoor kan word, wat beteken dat ’n mens brandpunte kan identifiseer. Volgens AfriForum se groendruppeluitslae voldoen 20 rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie.

Dit sluit die volgende dorpe in: Biesiesvlei, Bloemhof, Brits, Christiana, Coligny, Delareyville, Groot-Marico, Hartbeespoort, Klerksdorp, Koster, Lichtenburg, Mahikeng, Makwassie, Mooinooi, Potchefstroom, Stella, Stilfontein, Ventersdorp, Vryburg en Zeerust. In 2017 in Potchefstroom is daar hoë fosfaattelling >2000 gevind, maar in 2018 en 2019 was dit skoon bevind. In 2020 is die syfer weer in die rooi > 10 000, wat kommerwekkend is.

Die burgerregteorganisasie het sy kommer uitgespreek oor rioolsuiweringsaanlegte binne die munisipaliteite waarvan die rioolwater nie aan die gestelde standaarde voldoen nie. “Ons sal die nienakoming verder ondersoek en optree waar nodig,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Potchefstroom se drinkwater wat die bloudruppeltoets ondergaan het, was meer positief en het aan die minimum standaarde voldoen. “Ons kon vasstel dat die volgende dorpe se drinkwater aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie: Klerksdorp, Potchefstroom, Stilfontein, Ventersdorp en Wolmaransstad. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets, want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die uitslae dui daarop dat die volgende dorpe in die provinsie se drinkwater nie skoon is nie: Brits, Delareyville, Sannieshof en Stella. AfriForum is besig met stappe om druk op munisipaliteite toe te pas om sodoende beter watergehalte te verseker. “AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte.

Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sluit Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, af.

AfriForum versoek inwoners van Noordwes om aan dié organisasie die mandaat te gee om die gehalte van water voortdurend te moniteer: SMS “Skoon water” na 45351 (R1) en steun hierdie projek.

Related Articles

 
Back to top button