CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Duitse firma verskaf kos en leer plaaslike inwoners om groente te verbou

'n Duitse firma het sedert September befondsing verskaf om 2.5 miljoen etes aan honger mense in Suid-Afrika te versprei. Fondse is ook gebruik om opleiding aan plaaslike inwoners te verskaf om hulle eie groentetuine te help vestig.

‘n Duitse firma, SUNfarming (GmbH), het sedert September befondsing verskaf om 2.5 miljoen etes aan honger mense in Suid-Afrika te versprei. Fondse is ook gebruik om opleiding aan plaaslike inwoners te verskaf om hulle eie groentetuine te help vestig.

Karel Jooste, die direkteur van SUNfarming SA wat die projek in Suid-Afrika bestuur, sê voedsel is veral in afgeleë gebiede by Ventersdorp, Potchefstroom, Klerksdorp, Port Elizabeth en Soweto versprei. Die Departement Onderwys en Sosiale Ontwikkeling het hulle gehelp om arm skole te identifiseer.

Karel Jooste agter links saam met leerlinge van Berts Bricks Laerskool. Foto: Verskaf

Maaltye is by die skool gegee en leerlinge het ook sakke voedsame kitspap huis toe geneem. Volgens Jooste het ‘n plaaslike ingenieursmaatskappy, CFAM, wat verrykte kitsmieliemeel vervaardig, die voedsame etes aan hulle verskaf.

Die tweede fase van die voedselvoorsieningsprojek maak Jooste meer opgewonde omdat hulle sover 360 mense in Ikageng en Promosa opgelei het om hulle eie groentetuine in hulle eie erwe en by kerke te begin. Met die groentetuin-projek het SUNfarming SA in samewerking met “Skills for All” die opleiding behartig.

Agter staan Henriëtte Schoeman van SUNFarming wat vir die kokke by Tsirologo Primary School in Ventersdorp wys hoe om die pap voor te berei. Foto: Verskaf

“Ons het by die kerke begin, want hulle het ons ook gehelp om arm mense te identifiseer wat baie by die projek kon baat. Die kerke verskaf nou groente aan kleuterskole in hulle omgewing,” sê hy. “‘n Pastoor by een van die kerke in Ikageng sê dat selfs een van die plaaslike ‘gangsters’ ingekoop het om ‘n groetetuin te begin,” lag Jooste.

Hy is besonder trots op dié projek omdat dit sover baie suksesvol is. “Die impak van dié projek is fenomenaal. Uit die eerste 100 mense wat ons opgelei het, het 94 mense nou volwaardige groentetuine waaruit hulle kos kry.” Inwoners is van saad, plante, ‘n gieter en basiese implemente voorsien om met die tuine te begin.

Volgens Jooste sit die moeilike kleigrond op party plekke nie eens die entoesiastiese tuiniers terug nie. Jooste sê dat hierdie projek in November eindig, maar dat hulle van plan is om vir nog befondsing aansoek te doen om die goeie werk voort te sit.

  • SUNFarming is ‘n maatskappy wat sonenergie oplossings verskaf. Hulle is by navorsing en ontwikkeling betrokke om sonkrag in die landbousektor uit te brei.

nwu afr

Related Articles

 
Back to top button