CommunityEntertainmentNewsNewsPhoto Galleries

Eerste kunsuitstalling by museum na lang inperking

'n Feestelike atmosfeer het Woensdag, 11 November by die Potchefstroomse Hoofmuseum geheers toe kunsliefhebbers saam die eerste uitstalling na die lang inperkingsperiode geopen het.

‘n Feestelike atmosfeer het Woensdag, 11 November by die Potchefstroomse Hoofmuseum geheers toe kunsliefhebbers saam die eerste uitstalling na die lang inperkingsperiode geopen het. Hulle het selfs alle Covid-19-voorskrifte trotseer om net weer in uitstalruimtes met kunswerke rond te beweeg.

Twee belangrike gaste wat die visuele kunste in die Noordwes provinsie ondersteun, was self by die uitstalling – die assistent-direkteur vir visuele kunste in die Noordwes, Pitso Chinzima en adjunk-streeksdirekteur van die visuele kunste, Bagaisi Mochume.

Twee verskillende uitstallings word tans aangebied. Inperking 21 is die titel van die uitstalling waaraan kunstenaars regoor die land deelneem om fondse vir die Teaterbystandsfonds te skenk. Dié uitstalling bestaan uit ongeraamde A5 kunswerke op papier wat teen R100 elk verkoop word.

Pa en dogter by die Inperking 21-uitstalling. Alle verkope van die kunswerke word aan die Teaterbystandfonds geskenk. Foto: Susan Cilliers

Drie plaaslike kunstenaars – Roy Vieira Forté, Cronjé Lemmer en Dedré Victor – het tydens die eerste 21 dae van inperking kunstenaars gemotiveer om aan dié uitstalling deel te neem. Fondse wat met die verkoop van die kunswerke ingesamel word, word net so aan die fonds geskenk om finansiële hulp aan mense wat in alle beroepe van die uitvoerende kunste is, te verleen. Die fondsinsameling is beeldende kunstenaars se manier om hul broers en susters in die uitvoerende kunste te ondersteun.

Dedré Victor is ‘n kunstenaar en een van die organiseerders van die uitstalling. Foto: Susan Cilliers

“Ons het baie belangstelling gekry. Kunstenaars is steeds besig om werke regoor die land vir die fondsinsamelingsprojek in te stuur,” sê Roy Vieira Forté wat een van die organiseerders van die projek is.

Die ander uitstalling getiteld Artists Unite, stal werke van 25 plaaslike kunstenaars uit wat ook te koop aangebied word. Beide uitstallings duur tot einde Januarie 2021. Daar is dus beslis genoeg tyd om die ideale Kersgeskenk hier uit te kies.

Elmarie Weyers, kurator van die Potchefstroomse Museum by een van die kunstenaars, Muzi Makhubane, se werke wat uitgestal word. Foto: Susan Cilliers

Die galery-ure is van Maandag tot Vrydag van 09:00-13:00 en van 14:00-16:00, Saterdae van 09:00-12:30 en Sondae van 14:30-17:00. Vir navrae kontak Roy Vieira Forté by 079 072 2892 of Elmarie Weyers, kurator van die museum, by 018 299 5021.  

Bongumusa Thlongwa by sy kunswerke. Foto: Susan Cilliers

nwu afr

Related Articles

 
Back to top button