CommunityHealthLifestyleNewsNewsPhoto Galleries

Riool vloei oral na swaar reën

Terwyl die meeste mense verheug is wanneer dit reën, sak baie Potchefstromers se moed in hul skoene, want as die riool-infrastruktuur in sommige gebiede verstop is of glad nie funksioneer nie, word erwe, besighede en groot landelike gebiede met rioolwater besoedel.

Terwyl die meeste mense verheug is wanneer dit reën, sak baie Potchefstromers se moed in hul skoene, want as die riool-infrastruktuur in sommige gebiede verstop is of glad nie funksioneer nie, word erwe, besighede en groot landelike gebiede met rioolwater besoedel.

Meer uitbreidings in die stad, besighede in die industriële gebied en selfs besighede en kleinhoewes wat etlike kilometers buite die stad geleë is, ly tans onder die munisipaliteit se onvermoë om hul rioolnetwerk te bestuur.

Volgens DA-raadslid Johan Zerwick, sukkel huishoudings in die suidelike deel van die stad weer met riool wat in erwe opstoot. Gewoonlik was dit net hierdie deel van die stad naby die rioolplaas wat hiermee gesukkel het, maar groot rioolprobleme het onlangs ook in Baillie Park kop uitgesteek.

Die Herald het twee weke gelede berig oor riool wat in erwe langs Paryslaan oorloop. Martinus Strydom en Antonie Greeff is maar net twee van talle inwoners wie se tuine in stinkende, onhigiëniese moerasse verander het. Hierdie inwoners moes vir weke met hierdie gemors saamleef voordat die munisipaliteit verlede Vrydag, 13 November ‘n loodgieter gekontrakteur het om die rioollyne weer oop te maak.

Antonie Greeff se erf in Bailliepark. Foto: Venessa van der Westhuizen

Volgens Zerwick is die munisipaliteit se verskoning dat hulle net een hoëdruktrok het wat in diens van die hele stad se rioolnetwerk is en dat dit tans buite werking is. Besighede in die industriële gebied langs die N12 word deur riool verswelg. Een van die besighede het ‘n ultimatum van hulle gesondheidsinspekteurs ontvang dat hulle sal moet sluit as die probleem nie dadelik opgelos word nie.

Dit is ook nie net besighede in die stad wat onder die swak infrastruktuur ly nie. Berts Bricks wat etlike kilometers uit die stad, oorkant Uitbreiding 9 in Ikageng geleë is, se wildskampe word vir kilometers deur rioolwater besoedel. Dié rioolwater is afkomstig van Uitbreiding 9 en loop in die stormwaterkanale langs die N12, onder deur die brug deur Berts Bricks se wildskampe tot in die kanale van die Mooibank-kleinhoewes wat weer in die Mooirivier uitloop.

Berts Bricks het van hulle eie werkers gebruik om die besoedelde omgewing te probeer rehabiliteer en tel hope plastiek, vuil babadoeke, swart sakke, sanitêre doekies en meer in die veld op.

Berts Bricks se werkers besig om wildskamp op te ruim na die rioolwater deurgespoel het. Foto: Venessa van der Westhuizen

’n Beroepsgesondheid, -veiligheid en omgewingsbestuurder van Berts Bricks, George Kotze, sê dat die munisipaliteit al ’n geruime tyd van hierdie rioolprobleem bewus is. “Vandat ek in 2011 by Berts Bricks aangestel is, sukkel ons met dié probleem. Munisipale amptenare was al verskeie kere hier na ’n groot storm dat ons vir hulle uitwys hoe erg dit is, maar niks word daaraan gedoen nie.

Rioolwater wat etlike kilometers van die N12 binne Berts Bricks se perseel opdam. Foto: Venessa van der Westhuizen

Rioolwater en afval wat vir kilometers deur die veld spoel en in waterkanale afgevoer word, is duidelike bewyse dat hierdie besoedeling uiteindelik in die Mooirivier beland,” sê Kotze. Intussen het die DA ’n spesiale vergadering met die munisipale bestuurder, Lebo Ralekgetho en die lid van die burgemeesterskomitee belas met infrastruktuur, Mpho Kgasane, belê om die rioolprobleme  in Potchefstroom aan te spreek.

“As dit die oorsaak is dat besighede en fabrieke hulle deure moet sluit, het ons groot probleme, want as fabrieke sluit, gaan baie mense hulle werk verloor en sal dit sal ’n ernstige ekonomiese uitwerking op die stad hê,” sê Zerwick.

Rioolwater wat by fabrieke in die industriële gebied opdam. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die Herald het die munisipaliteit om kommentaar genader, maar teen saktyd is geen terugvoer ontvang nie.

nwu afr

Related Articles

 
Back to top button