CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Nuwe taktiek om geld te steel

‘n Nuwe slenter waar bedrieërs voorgee hulle is van die bank se bedrogafdeling en kliënte aanlyntransaksies laat uitvoer, vang onskuldige mense omdat hulle so besteel word.

‘n Nuwe slenter waar bedrieërs voorgee hulle is van die bank se bedrogafdeling en kliënte aanlyntransaksies laat uitvoer, vang onskuldige mense omdat hulle so besteel word.

Denise Sutherland, wat vir die afgelope vyf jaar ‘n baie tevrede kliënt by Capitec bank was, was onlangs die slagoffer van bankbedrog nadat sy ongeruimdhede op haar rekeningstaat gemerk en dit by die bank gerapporteer het.

Sy het gemerk dat klein bedrae van haar bankrekening afgetrek word en het op 21 Oktober self bank toe gegaan om dit aan te meld. Een van die transaksies wat van haar rekening afgetrek was, was ‘n debietorder van R653.33 van ‘n RCS-kaart wat sy nie eens besit het nie. Sy is gevra om geduldig te wees en dat dit tot twee weke kan neem om ondersoek in te stel.

Dit was toe ook twee weke later dat ‘n vrou haar skakel en haarself voorstel as Anele van Capitec. Denise sê die vrou het haar persoonlike besonderhede gehad. Sy het gesê dat sy haar kontak in verband met klein bedrae wat van haar bankrekening afgetrek word. Sy het ook gemerk dat Denise bekommerd was dat sy nie haar geld gaan terugkry nie en het haar gerusgestel dat sy dit wel weer sal terugkry.

Denise vertel verder dat die vrou wou weet wanneer sy haar laaste transaksie gedoen het. “Ek het net datums gegee van my laaste transaksie en die laaste EFT-betaling wat ek gedoen het. Sy het ook gesê dat ek vir veiligheidsredes my laaste geld in my rekening moet beveilig voor daar nog geld verdwyn,” vertel Denise.

‘Anele’ het toe voorgestel dat Denise by die Capitec App moet ingaan. Sy het toe met haar “hulp” ingegaan en glad nie vermoed dat sy besig was om haar te bedrieg nie. “Ek het haar vertrou, want sy het my persoonlike inligting gehad en presies geweet wanneer ek die eerste keer in die bank was om die bedrog te rapporteer.” Anele het haar mislei om ‘n “Cash send” transaksie van R1 600 deur te voer. “Ek het wel dadelik agtergekom daar is fout toe sy my te lank laat aanhou het vir inligting wat sy kamtig nog nodig gehad het,” vertel Denise.

Daarna het sy dadelik bank toe gegaan om die voorval te rapporteer en toe hulle haar vra van watter telefoonnommer Anele gebel het, het hulle haar ingelig dat sy van ‘n selfoonnommer gebel het en dat bankdienste nooit van selfoonnommers gebruik maak nie. ‘n Personeellid van Capitec het dadelik probeer om die “Cash-send” transaksie te stop, maar die bedrieërs het toe klaar die geld getrek. Denise sê terwyl sy in die bank was, het nog ‘n werknemer van Capitec vertel van twee ander kliënte wat op dieselfde manier bedrieg is. Een van hulle het R18 000 so verloor.

Die woordvoerder van Capitec Bank, Lizanne Strauss, sê hierdie spel van bedrieërs om hulself voor te doen as werknemers van die bedrogafdeling, is ‘n nuwe taktiek om mense te beroof. Hulle buit kliënte uit wat paniekerig raak omdat hulle hulself wil beskerm en voer al die opdragte uit wat aan hulle voorgesê word. “Hierdie sindikate is goed georganiseer en onttrek die fondse vinnig nadat die oordragte gedoen is.”

Lizanne sê verder dat hulle forensiese-afdeling bevestig het dat Capitec-stelsels of werknemers geensins vir die ongemagtigde transaksie verantwoordelik was nie. “Capitec sal nooit bel om ‘n kliënt se persoonlike besonderhede aan te vra nie,” sê sy.

Denise glo weer dat hierdie beslis ‘n skelmstreek is wat nie sou kon plaasgevind het sonder informasie wat intern van die bank bekom is nie. “Ek het onder geen omstandighede my persoonlike informasie aan die vrou gegee wat haarself voorgedoen het as iemand van die bedrogafdeling nie. Waar het sy my telefoonnommer gekry en geweet dat ek bankbedrog op ‘n sekere datum aangemeld het?”

Hoewel Denise die kleiner bedrag van R653.33, die ongemagtigde debietorder, weer van die bank teruggekry het, weier die bank om die “Cash-send” transaksie terug te betaal aangesien sy die transaksie self uitgevoer het. Denise het intussen haar bankrekening by Capitec gesluit en na ‘n ander bank oorgeskakel.

nwu afr

Related Articles

 
Back to top button