Stem vir dié twee plaaslike musikante in internasionale kitaarkompetisie

Die formaat van die kompetisie is om ‘n video te maak waar ‘n mens met kitaar of baskitaar ‘n Sweedse volksliedjie verwerk en jou eie unieke klank en melodie daaraan verskaf.

Twee Potchefstroomse musikante het die gulde geleentheid om naam te maak in ‘n internasionale kitaarkompetisie en hulle het die hulp van die Potchefstroomse gemeenskap nodig.
Tiaan Engelbrecht en Miemie Richter is vir die 2020 .strandberg*-kitaarkompetisie in samewerking met die Uppsala kitaarfees in Swede, ingeskryf waar hulle die kans staan om ‘n .strandberg* kitaar of baskitaar te wen. Behalwe die eerste prys, is dit ook ‘n geleentheid vir plaaslike musikante om hulle staal teen die res van die wêreld in hierdie kompetisie te wys.

Tiaan Engelbrecht is ‘n begaafde kitaarspeler wat my sy unieke komposisie ‘outentiek’ vir die internasionale .strandberg kompetisie ingeskryf het. Foto: Tian du Preez
Miemie Richter het in die baskitaar-afdeling haar merk met ‘n unieke verwerking gemaak. Foto: Tian du Preez Photography

Die formaat van die kompetisie is om ‘n video te maak waar ‘n mens met kitaar of baskitaar ‘n Sweedse volksliedjie verwerk en jou eie unieke klank en melodie daaraan verskaf.
Tiaan het unieke Afrika elemente in sy instrumentele kitaarstuk gebruik om dit eg Suid-Afrikaans te maak, terwyl Miemie ‘n kleurvolle verwerking van Ingrid Jonker se gedig, Bitterbessie Dagbreek, met sang en baskitaar uitgevoer het..
Die publiek kan die volgende skakels gebruik om vir Tiaan en Miemie se videoinskrywings te stem. Diegene wat stem moet net hulle e-posadres verskaf en dit dan verifieer vir die stem om te tel. Hoe meer stemme, hoe groter kans het die twee talentvolle musikante om bo te eindig.

Hier is die skakels om te stem:
Tiaan: https://competition2020.strandbergguitars.com/?contest=video-detail&video_id=180
Miemie: https://competition2020.strandbergguitars.com/?contest=video-detail&video_id=221

“Die taak was om ‘n Sweedse volksliedjie wat hulle vir ons gegee het, te verwerk en te doen daarmee net wat jy wil, solank daar net dele van die oorspronklike liedjie herkenbaar is. Ek het geweet ek sal nie kan bybly by die “shredders” daar buite nie, so toe fokus ek liewer daarop om my inskrywing so eg Suid-Afrikaans moontlik te laat klink,” vertel Tiaan

Tiaan het juis probeer om verskillende eg Suid-Afrikaanse klanke te inkorporeer om sy inskrywing so uniek as moontlik te maak. Sodoende het hy sy vriend, Morena Maile, gevra om ‘n saksofoonsolo by te voeg.

“My komposisie fokus spesifiek op elemente van Suid-Afrikaanse musikante waarvan ek baie hou, soos Winston Ngozi en Guy Buttery. Morena Maile se saksofoon solo is my geheime wapen! Ek alleen kan nie Suid-Afrika verteenwoordig nie, so Morena se deelname maak ook seker dat daar behoorlike verteenwoordiging van SA se unieke kulture is,” verduidelik hy.

Vir Miemie lê verwerkings van musiek na aan die hart en dit is juis om hierdie rede waarom sy graag haar inskrywing met Ingrid Jonker as fondasie wou doen.

“Ek het begin by dit wat ek die beste doen, en dit is om verwerkings van musiek te doen, veral omdat ek so baie met sergroepe werk! Van daar af het ek die melodie verwerk, harmonie daarna en begeleiding van die klavier af na die baskitaar toe verwerk,” noem sy.

 

Miemie se inskrywing maak ook geskiedenis, aangesien dit tot dusver die enigste Afrikaanse een is.

“My komposisie is die enigste inskrywing wat nie net instrumenteel is nie, ek maak ten volle gebruik van my stem.”

Bitterbessie Dagbreek is vir Miemie ook ‘n gedig wat sy voel sy eg met ‘n vars aanslag kan uitbeeld.
“Ons het een jaar in die koor op hoërskool ‘n verwerking daarvan gedoen en hierdie spesifieke verwerking het my diep geraak, en steek sedertdien by my vas.
Dit was vir my baie belangrik om dit te gebruik juis om hierdie rede. Ek wou gehad het my inskrywing moet so eg as moontlik wees. Toe die twee stukke se melodieë mekaar so mooi komplementeer, het ek geweet dat dit vir ‘n rede is en ek dit moet gebruik,” vertel sy opgewonde.

“Wat baskitaar baie moeiliker maak, is omdat mens net vier snare het en omdat akkoorde nie regtig ‘n opsie is nie, is jou nootkeuses baie belangriker en dra as ‘n geheel baie meer gewig in die komposisie.”

Exit mobile version