CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Saluut! ‘n Groot boom het geval

Die meeste Potchefstromers is steeds geskok en hartseer oor die sinnelose moord op Sias Willemse (71). Almal ken die voormalige kranige krieket- en rugbyspeler, maar min weet dat sy drie kleindogters eintlik sy hart vermurwe het. Die Herald het met sy familie oor die tragiese voorval gesels en hoe hulle Sias onthou.

Die meeste Potchefstromers is steeds geskok en hartseer oor die sinnelose moord op Sias Willemse (71). Almal ken die voormalige kranige krieket- en rugbyspeler, maar min weet dat sy drie kleindogters eintlik sy hart vermurwe het.

Hy is verlede Dinsdag, 22 September by sy huis op die vloer met drie dasse om sy nek en ‘n skietwond aan sy keel gevind. Hy is in dieselfde huis waarin hy en sy vrou Tobianna vir 47 jaar gewoon en hulle hul seun en dogter, SM en Lynné, grootgemaak het, vermoor.

Ten tye van die voorval was sy vrou uitstedig en het sy by hul seun in die Wes-Kaap gekuier.

As kaptein van die destydse Wes-Transvaalse krieketspan en later die kaptein van die Suid-Afrikaanse plattelandse krieketspan was hy groot lof toegeswaai. Sy prestasies op die rugbyveld het nie ongesiens verby gegaan nie en die manne was eintlik maar skrikkerig vir die groot slot wat vir Potch Dorp rugby gespeel het. Hierdie krieket en rugby talent het sy seun, SM Willemse, by sy pa oorgeërf want hy het ook vir Wes-Transvaal krieket en rugby gespeel. 

SM Willemse, Sias se seun, was nes sy pa ‘n uitstekende bouler. Foto: verskaf

Sedert sy dood stroom huldeblyke van so ver as Wes-Indië, Dubai, Amerika, Australië, Nieu-Seeland en Engeland in. Krieket- en rugbyspelers, boere, sakemanne en vriende bring hulde aan die vriendelike, groot, nederige man.

Die Herald het Maandag, 28 September met sy familie oor die tragiese voorval gesels en hoe hulle Sias onthou. Dit was ‘n besige oggend in Tobianna en wyle Sias se huis in Frederikstraat, Baillie Park. Tobianna, hulle dogter en skoonseun, Lynné en Frik Snyman, is vriendelik en gasvry en moet bontstaan om telefoonoproepe en ruikers wat afgelewer word, te ontvang. Hulle praat met die dominee, ‘n verteenwoordiger van die sekuriteitsmaatskappy en weer met die speurders wat opdaag om nog ‘n bewysstuk by die moordtoneel af te haal. Die studeerkamer, waar Sias se lyk ontdek is, se deur bly toe en niemand gaan daar in nie.

Wyle Sias Willemse en sy vrou, Tobianna (middel) saam met hul kinders en skoonkinders. Links is Jolandie en SM Willemse en Lynné en Frik Snyman (regs). Foto: Verskaf

Tobianna was self ‘n uitstekende sportvrou en was op haar dae ‘n Springbok netbalspeler. Sy is kalm, maar telkens wanneer sy ‘n telefoonoproep in die kombuis ontvang, kan jy haar in die agtergrond hoor huil. Lynné verskoon haar om haar ma te gaan troos en wanneer sy terugkom sê sy dat haar ma nou vir die eerste keer huil. Tobianna is nie iemand wat sommer praat nie en voel oorweldig deur al die gebeure en take wat nog voor die begrafnisdiens afgehandel moet word. Later sê Tobianna sy is so bly oor haar familie wat haar met soveel liefde bystaan.

Hoewel die polisie aan die begin nie selfmoord wou uitsluit nie, is daar baie bewyse dat Sias se dood nie selfmoord was nie. Lynné vertel dat die patroondoppie van die vuurwapen waarmee hy geskiet is, in sy hemp gekry is. Die speurders vermoed dat hy met een van sy eie vuurwapens geskiet is, wat weer in die kluis teruggeplaas is. Ballistiese toetse sal dit later bevestig.

Volgens die speurders was sy aanvallers haastig op soek na geld, want behalwe vir ‘n relatiewe klein bedrag kontant uit die kluis, is niks anders uit die huis gesteel nie. “Selfs die gewere, ‘n Krugerrand en my ma se juwele het net so in die kluis agtergebly,” vertel Lynné. Speurders het op sekuriteitskameras verdagtes by nabygeleë huise opgemerk. “Hulle is omstreeks 8:00 gesien en het volgens die speurders om 8:45 weer met ‘n sak gevlug.”

Vir haar is die ergste dat haar pa sy laaste oomblikke in vrees moes afsluit, maar sy troos haar daaraan dat alles relatief vinnig verby was. “Die speurders sê daar was geen tekens aan sy liggaam dat hy terugbaklei het nie. Daar was nie merke op sy hande en bene nie. Hulle het hom vasgepen en hy het geen verweer gehad nie,” vertel Lynné.

Die familie se hart gaan uit na hulle neef, Stephan Willemse, wat op Sias se lyk afgekom het. Hy is die broerskind van Sias. Sy pa is 21 jaar gelede in ‘n motorongeluk dood. Hy het aan Lynné gesê hy is baie hartseer, want hy het ‘n oom, ‘n pa en ‘n pêl te verloor. Stephan boer op die oorspronklike familieplaas tussen Parys en Potchefstroom, en het baie ondersteuning en raad by sy oom Sias gekry wat later ‘n aangrensende plaas gekoop het. Sias het met beeste en mielies geboer.

“Dit is ironies dat so iets met Sias gebeur het. Sy suster, Kitty, wat alleen op die oorspronklike familieplaas bly, weier om Potch toe te trek. Ons het haar nog altyd gewaarsku dat dit gevaarlik is vir ‘n vrou om alleen op ‘n plaas te bly, maar sy het dan net gesê dis gevaarliker in ‘n  stad as op ‘n plaas,” sê Tobianna.

Sy sal altyd onthou hoe lief Sias vir kinders was. Sy vertel toe hulle eie kinders in die huis was, hoe hy Sondae sommer die hele buurt se kinders op sy bakkie gelaai en vir hulle draairoomyse gekoop het. “Hy het ‘n lekkergoedlaai spesiaal vir sy drie kleindogters gehad en het hulle ten minste een keer per week gebel,” onthou sy.

Lynné onthou weer hoe sag haar pa met haar dogters was. “As ons by hulle gekuier het, het hy elke aand voor die meisies se slaaptyd vir hulle gesê hy is lief vir hulle. Hy het dit nie eens met my gedoen nie,” lag Lynné.

Micka en Zieneke Snyman het vir oupa ‘n versjaarsdagkoek gebak. Foto: Verskaf

Die familie sal hom onthou as iemand wat nie doekies omgedraai het nie. Hy was reguit en het geglo aan reg en verkeerd. Hy was lief vir sy familie en het geen waarde aan aardse besittings geheg nie. Toe hy ‘n pragtige leerstoel vir sy 70ste verjaarsdag van die familie gekry het, het hy gevra dat hulle dit  moet terugneem omdat hy steeds sy ou gunsteling stoel wil gebruik,” sê Lynné.

“Hy was lief vir die natuur en sy beeste en het altyd gespot dat sy beeste maklik is omdat hulle nie terugpraat soos sy vrou en dogter nie,” lag Lynné. “My pa het ‘n vol lewe gehad en het meer vermag in sy 71 jaar as die meeste ander. Ek is nie meer kwaad vir die moordenaars nie, maar stem net nie saam met die daad wat hulle gepleeg het nie, want ‘n oupa is vroegtydig van sy geliefdes en kleinkinders weggeneem.“Hulle sal eendag voor God moet rekenskap gee.”

Sias se begrafnisdiens vind Donderdag, 1 Oktober om 11:uur vanuit die Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Oos in Paryslaan, Baillie Park plaas. Almal is welkom.

Related Articles

Back to top button