CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Bure red bejaarde egpaar tydens aanval

“Die Here het engele op elke stadium van die voorval geplaas” sê ‘n gelowige Betsie Gordon (79) nadat sy en haar man, Thys (81) Dinsdag, 15 September op hulle kleinhoewe by Wilgeboom kleinhoewes naby Potchefstroom aangeval, beroof en erg aangerand is.

“Die Here het engele op elke stadium van die voorval geplaas” sê ‘n gelowige Betsie Gordon (79) nadat sy en haar man, Thys (81) Dinsdag, 15 September op hulle kleinhoewe by Wilgeboom kleinhoewes naby Potchefstroom aangeval, beroof en erg aangerand is.

Die vinnige optrede van hulle buurman en twee dogters op ʼn buurplaas, wat op ʼn noodkreet van ʼn burgerbandradio gereageer het, het waarskynlik die lewe van die Gordons gered.

Volgens die buurman, Johan Visser, het die voorval omstreeks 17:40 plaasgevind. Betsie was in die sitkamer besig om te brei naby die agterdeur waar sy op Thys gesit en wag het. Hy was buite besig om die kalwers te voer.  “Die res van die huis was gesluit. Iemand het van agter af gekom en ʼn swart doek oor my mond gebind. Hy het my op die grond gegooi en my teen my kop en lyf begin skop”, vertel ʼn verslae mev. Gordon na die voorval.

Sy sê dat sy die doek oor haar mond afgetrek het en hard en aanhoudend begin skree het. Die aanvaller het teruggeskree: “Hou jou bek! Ek gaan jou vrek maak!” Sy het toe vir hom gevra wat hy wil hê waarop hy geantwoord het dat hy geld wil hê. Sy het probeer opstaan om vir hom te gaan wys waar dit is. Sy het flou gevoel en weer in mekaar gesak. “Hy het my die gang af gesleep en geskop tot by die kamer waar die kluis is.

Toe hy die kluis oopmaak, het hy Thys se vuurwapen uitgehaal en het gesukkel om dit oor te haal. Skielik het iets sy aandag buite afgetrek, en hy het uit die kamer geloop en my net daar gelos”, vertel Betsie. “Ek het gebid dat die Here my insig, wysheid en kalmte moet gee en het toe na die deur toe gekruip en dit gesluit. Ek het daarna die alarm se paniekknoppie gedruk en oor die burgerbandradio om hulp geroep.”

Dis toe dat twee sussies, Larissa (10) en Mieke (8) Mans wat op ʼn buurplaas bly, toevallig die boodskap oor die radio hoor. Hulle was binne die huis en het dadelik buitentoe gehardloop om hulle ouers te roep. Hulle ma, Marissa Mans, sê hulle het grootoog vertel hulle moet tannie Betsie gaan help, want sy skree: “Help, hulle gaan ons doodmaak!” Haar man, Pierre Mans, het toe dadelik soontoe gery.

Mieke en Larissa Mans het Betsie Gordon oor die burgerbandradio hoor skree. Foto: Verskaf

Thys is intussen ook buite, van agter af, oorval. ʼn Man het hom ook op die grond gegooi en begin skop en met sy knie op sy bors gedruk. “Ek het darem ʼn paar klappe ingekry”, vertel Thys met ʼn skewe glimlag. Die aanvaller het hom die huis in gevat tot in die kombuis en hom met die pistool aangehou.

Intussen het die Gordons se buurman, Johan Visser, die geskree gehoor en gedink Thys of Betsie het dalk geval en seergekry. Hy het dadelik oorgestap en by die agterdeur ingegaan om die Gordons te soek. “Binne die huis het ʼn verslae oom Thys my arm gevat en my kombuis toe gelei waar die aanvaller met die geweer gestaan het. Ek was oorbluf en het hom gevra: ‘wat soek jy hier?’ Hy het my beveel om uit te loop. Ek het toe vir hom gesê: ‘Nee, gaan JY uit!’. Na ʼn oor en weer gestryery het die aanvaller toe ingestem om saam met my uit te gaan, maar ek moes eerste uitloop.

Buite het hy gesukkel om die pistool oor te haal dis toe dat ek vir hom gesê het ‘laat jy f*k*f!’ Ek het vinnig weer terug in die huis gehardloop en die deur gesluit. Die rower het gevlug en kort daarna het voertuie by die voorhek opgedaag.

Betsie onthou dat haar aanvaller ʼn tweestuk blou oorpak gedra het en dat hy goed Afrikaans kon praat. Thys onthou weer dat sy aanvaller ʼn masker en keps gedra het. Hulle is bly alles het goed afgeloop. Dis net die blou kolle, skraapmerke en gekraakte ribbes op die Gordon’s se lywe wat nog die stille getuies is van die traumatiese ervaring wat hul deurgemaak het.

Blou kneusplekke op Betsie se bors soos sy deur die rower geskop is. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die Gordons bly al vir 23 jaar saam op die kleinhoewe. Thys is met ‘n vorige geleentheid (2006) deur twee aanvallers beroof en met ‘n mes en hammer aangerand toe hy ‘n klein winkeltjie op die hoewe bedryf het. 

Kol. Adéle Myburgh, mediawoordvoerder van Noordwes polisie, het gesê ʼn pistool met ammunisie en twee selfone is gesteel en ʼn saak van huisroof word ondersoek. Die polisie is nog onseker hoeveel aanvallers betrokke was. Niemand is nog teen Vrydag, 18 September in hegtenis geneem nie. Enige iemand met meer inligting kan die ondersoekbeampte, ao. Johan Mostert, by 082 568 5734 skakel.

Related Articles

Back to top button