Inwoner skiet mede-inwoner na tuinstel-stryery

Du Toit is op die toneel dood.

VEREENIGING. – Die gemeenskap van Redan is steeds in skok na ’n voorval waartydens die ‘oumensbuurt’ se vullisverwyderaar ’n ander inwoner na bewering tydens ’n “onnodige stryery” oor ‘n tuinstel doodgeskiet het. Daniel Jacobus “Daan” Opperman Lowings (69), ’n inwoner wat vullisdromme by inwoners se huise plaas en leegmaak, staar nou ’n klag van moord in die gesig. Die voorval het Maandag, 31 Augustus net voor 17:00 gebeur nadat hy tydens ‘n onderonsie na bewering sy vuurwapen uitgepluk en vir Leon du Toit (60), deur die linkerkant van sy kakebeen geskiet het. Du Toit is op die toneel dood. Lowings het na bewering die moordtoneel verlaat, maar is later by sy huis in hegtenis geneem. Hy sal eersdaags in die landdroshof in Vereeniging verskyn.

 
Die bakkie van Daan Lowings (69) het Dinsdagoggend steeds op die toneel gestaan waar die skietery Maandagaand plaasgevind het.

Lowings het na bewering ook talle skote op die eienaar van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy afgevuur nadat dié hom gekonfronteer het. Hy het vermoedelik ook sy vuurwapen op omstanders en kinders gerig. Inwoners met wie die Herald se susterskoerant, Vaalweekblad, gepraat het, het die voorval as “onnodig” bestempel. Volgens Jurie Mienie, eienaar van JAS Security, wat Redan se sekuriteit behartig, was Lowings besig om die tuinstel van Chanel Viljoen se ou huis (nommer 67) te verwyder toe hy deur inwoners gekonfronteer is. Viljoen is in die proses om te trek en sou die meubels na haar nuwe huis (nommer 101) trek. Du Toit en Lowings het glo in ’n hewige stryery betrokke geraak, waarna Lowings na bewering sy vuurwapen uitgepluk en vir Du Toit geskiet het. Daarna het hy na bewering ook skote op Mienie afgevuur. Mienie het na sy huis gehardloop om ’n koeëlvaste baadjie te gaan haal. Lowings is later deur die polisie in sy huis in hegtenis geneem en sy vuurwapen is by hom afgeneem. Toe Vaalweekblad die toneel die volgende oggend besoek, was Viljoen se stoele nog net so onaangeraak agter op Lowings se bakkie wat nog net so voor huis nommer 67 gestaan het. Kapt. Fikile Funda, ’n woordvoerder van die polisie in Vereeniging, het die voorval aan bevestig. Volgens kapt. Funda het beamptes die oorledene voor huis 67 aangetref waar hy op die grond gelê het met ’n skietwond deur die linkerkant van sy kakebeen. Hy het gesê die oorledene en die verdagte het met mekaar gestry en gesê dat ‘n klag van moord deur die polisie ondersoek word. Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: https://vaalweekblad.com/72808/redan-inwoner-skiet-mede-inwoner-na-tuinstel-stryery/

Exit mobile version