Lisensiekantore inkonsekwent en onkonsidererend sê publiek

Die Herald het die afgelope weke verskeie klagtes van die publiek ontvang waarin die inkonsekwentheid van die personeel by die lisensiekantore uitgewys word. Nuwe reëlings word ook oornag toegepas sonder om die publiek vooraf in kennis te stel.

Die Herald het die afgelope weke verskeie klagtes van die publiek ontvang waarin die inkonsekwentheid van die personeel by die lisensiekantore uitgewys word. Nuwe reëlings word ook oornag toegepas sonder om die publiek vooraf in kennis te stel.

Mense wat bereid is om namens die publiek hulle voertuiglisensies te hernu, is raadop met personeel wat die een dag reëlings vasstel om net die volgende dag weer van plan te verander. ‘n Lid van die publiek wat anoniem wil bly, sê hy is bereid om vroeg (05:00) in die ry by die lisensiekantore in te val om namens ander hulle lisensies te hernu. “Ek help veral bejaardes en mense wat dit nie kan bekostig om ‘n dag verlof in te sit nie,” sê hy.

Die anonieme aansoeker handig ‘n hele paar aansoeke per keer in, maar toe hy weer daar kom, het die administrasiebeamptes net besluit dat ‘n klomp aansoeke per keer nie toegelaat sal word nie. Hy het toe vir een van die personeellede gevra wat die maksimum   voertuigeienaars is wat per keer toegelaat sal word, waarop sy geantwoord het dat vyf eienaars per keer toegelaat sal word. Sy het gesê dat  uitsonderings gemaak kan word wanneer een eienaar meer as een voertuig het.

‘n Paar dae daarna, toe hy weer aansoek doen, het die dame wat hom gehelp het, geweier om meer as vyf aansoeke te verwerk. “Ek kry die idee dat daar nie vasgestelde reëls is wat gevolg word nie, of dat personeel reëls verander soos wat hulle die dag voel,” sê ‘n baie gefrustreerde aansoeker.

Verder vertel hy dat lisensies nie uitgereik word wanneer ‘n voertuigeienaar ‘n uitstaande boete op sy/haar voertuig het nie. Hy sê dat hy al een dag namens sy kliënt uitstaande boetes betaal het, maar dat ‘n ander kassier twee dae daarna geweier het dat hy ‘n boete namens sy kliënt kon betaal. “Sy het daarop aangedring dat die aansoeker persoonlik die boetes kom betaal, wat beteken het hy moes sy vergadering onderbreek, lisensiekantore toe ry en die boetes persoonlik kom vereffen. Dit maak nie vir my sin nie! Waarom word dit een dag toegelaat en die volgende dag geweier?”

Die lisensiekantore het die publiek ook woedend oor reëlings wat gemaak word en oornag toegepas word sonder om die publiek vooraf in te lig. So het Roelien Roos se seun 05:00 in die ry geval om ‘n afspraak vir sy bestuurslisensie te maak, net om uit te vind dat hy vir drie ure verniet in die koue gestaan het omdat bestuurslisensies nou net op Vrydae gedoen word.

Die anonieme aansoeker sê dat dit gemiddeld vyf tot ses ure neem om voor in die ry te kom en dat die kantore om 11:00 hulle deure toemaak sodat die wat nog buite staan, nie vir die dag gehelp word nie.

Die Herald het vrae aan JB Marks se kommuniskasiewoordvoerder, William Maphosa, gestuur en wou weet waarom die lisensiekantore nie ’n webtuiste het of ‘n lys met reëlings by die kantore kan aanbring sodat die publiek vooraf ingelig kan word nie. Die Herald het egter geen terugvoering van die munisipaliteit ontvang nie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version