EntertainmentNewsNews

Onderwys hoës dans saam met Volkies

Onderwys hoës, onderwysers, leerlinge, tuinwerkers en skoonmakers het Vrydag, 28 Augustus almal saam die Jerusalema-dans by Hoër Volkskool uitgevoer nadat Ferdies hulle uitgedaag het.

Onderwys hoës, onderwysers, leerlinge, tuinwerkers en skoonmakers het Vrydag, 28 Augustus almal saam die Jerusalema-dans by Hoër Volkskool uitgevoer nadat Ferdies hulle uitgedaag het.

Terry Nicholenas, skoolhoof van Volkies, sê Rinah Sebolai, Noordwes Onderwys se kringbestuurder van die Retlakgona-distrik, was op besoek aan die skool vroeër die week toe sy die leerlinge sien oefen het en spontaan by hulle aangesluit en saamgedans het. Nicholenas het haar toe uitgenooi om Vrydag, 28 Augustus met die amptelike uitvoering by die skool, saam te dans.

Sebolai het nie op haar laat wag nie en sommer ander kollegas in Noordwes Onderwys saamgenooi wat toe Vrydag in goeie gees hulle dansskoene afgestof het. Sandra Yssel, die subdistrikbestuurder van Noordwes Onderwys in JB Marks, Irene Molope, ‘n adminstrateur van die Kenneth Kaunda-distrik en Mpiliso Tyatya, subdirekteur van onderwys in die Kenneth Kaunda-distrik het hulle aan die ritme van die Jerusalema oorgegee.

Irene Molope (links) en Rinah Sebolai (regs) sluit aan met die danspassies.

Die Jerusalema-lied en dans is eg Suid-Afrikaans. Die Suid-Afrikaanse platejoggie, Master KG, is vir die verwerking en lirieke verantwoordelik en niemand kan dit beter sing as Nomcebo met haar pragtige fluweelstem nie. Die lied maak wêreldwyd opslae nadat dit in November verlede jaar  vrygestel is.

Daar is ‘n magdom filminsetsels op sosiale media van mense wat regoor die wêreld op die maat van die ritmiese gospellied dans. In Potchefstroom het personeel van Mediclinic Potchefstroom en verskeie skole reeds aan die uitdaging deelgeneem. Die bedoeling is om mense op te beur, veral in die tyd van inperking. Wanneer jy eers die ritme van dié lied gehoor het en die betekenis van die woorde verstaan, kan jy nie anders as om te dans nie.

Die lirieke is eenvoudig en roep na God om jou te beskerm en saam met jou te loop en dat jou plek en koninkryk nie op aarde is nie. Indien jy nog nie die ritme van Jerusalema gevoel het nie, besoek gerus https://www.youtube.com/watch?v=fCZVL_8D048 om na die oorspronklike musiekvideo te kyk.

Leerlinge, tuinwerkers en skoonmakers het lekker gelag en pret gehad met die Jerusalema-dans.

Related Articles

Back to top button