Stywe boetes vir diegene wat bome op munisipale gebied afsaag

Verkeersbeamptes reik boetes uit van R1 750 wanneer hulle oortreders op munisipale gebied betrap en konfiskeer enige toerusting wat in hul besit is.

Die bos naby die Wasgoedspruit, wat die gebied tussen Jeppe- en Louis le Grangestraat (Ventersdorppad) insluit, was eens ‘n plantasie met bloekombome en verskeie inheemse soetdoring, karee en witstinkhoutbome.

Dié area is nou só uitgedun deur mense wat dit ongekontroleerd afsaag dat mens skaars kan glo dat dit eens ‘n plantasie was. Die area behoort aan die munisipaliteit wat nou desperaat poog om die stropery te stop.

Willie Botha, ‘n verkeersbeampte van Potchefstroom, sê die afkap van bome in ‘n munisipale area word deur ‘n munisipale bywet verbied omdat dit groot skade aan die omgewing berokken. Verkeersbeamptes reik boetes uit van R1 750 wanneer hulle oortreders betrap en konfiskeer enige toerusting wat in hul besit is. “Ons skryf ‘n kwitansie uit aan oortreders wat hulle toerusting kan terugkry sodra hulle boetes betaal is of hulle reeds in die hof verskyn het.”

Inwoners wat in die woongebied suid van Albert Luthuli-straat in die omgewing van Ons Hulde aftreeoord woon, sê dat veral buitelanders by hierdie stropery betrokke is. “Hulle kom enige tyd deur die dag en gebruik van boogsae tot petrolsae om die bome te laat val. ‘n Mens kan sommer sien watter bome is volgende, want die sytakke word netjies afgesny en as jy weer sien, lê die massiewe boom afgekap,” sê een van die bekommerde inwoners van dié woongebied wat nie sy naam genoem wil hê nie.

Volgens dié inwoner, lê die stompe in die bos om droog te word en word dit na die tyd vir vuurmaakhout opgesny en verkoop. Lugfoto’s wat Derek Crotts van die area geneem het, wys hoe min bome oor is en hoe die dik stompe op die grond lê.

Op dié lugfoto kan gesien word hoe boomstompe eenkant lê om uit te droog. Dié area was eens ‘n plantasie van Bloekombome en inheemse bome. Foto: Derek Crotts

Dr. Marié du Toit, ‘n plantkundige aan die Noordwes-Universiteit, wat kennis dra rondom die natuurlike plantegroei in en om Potchefstroom, sê die uitroei van inheemse bome is baie nadelig vir die ekosisteem wat belangrike dienste verrig.

Volgens dr. Du Toit lewer bome verskeie ekosisteem dienste: “Dit help met die verligting van klimaatsverandering deur koolsuurgas uit die omgewing te haal. Bome filtreer besoedelstowwe en stof in die lug en dit help ook met lugverkoeling.

“Bome verhoog die biodiversiteit en lewer ook ‘n habitat diens vir verskeie organismes en insekte wat in ‘n bepaalde omgewing voorkom. Verder help bome met die regulering van watervloei, dit voorkom erosie en help met verligting van die impak van vloede. Die estetiese waarde van bome en natuur in stede het groot waarde vir toerisme en dit is voordelig vir die mens se fisiese en geestesgesondheid”, sê dr. Du Toit.

Exit mobile version