DA dien kriminele klag in teen munisipaliteit  vir besoedeling

Die DA het Vrydag, 14 Augustus ‘n kriminele klag teen die JB Marks Munisipaliteit ingedien vir die oortreding van die Nasionale Waterwet en die Nasionale Wet op Omgewingsbewaring.

Die DA het Vrydag, 14 Augustus ‘n kriminele klag teen die JB Marks Munisipaliteit ingedien vir die oortreding van die Nasionale Waterwet en die Nasionale Wet op Omgewingsbewaring. Hans-Jurie Moolman wat die klagstaat by die plaaslike polisiekantoor ingedien het, sê as DA raadslid het hy ‘n veranwoordelikheid teenoor die gemeenskap in sy oorsigrol waarvoor hy kragtens die Wet op Munisipale Stelsels aangestel is.

Hy het in sy klagstaat foto’s aangeheg van die riool wat van die pompstasie op die hoek van Chris Hanistraat en Govan Mbekirylaan afkomstig is en direk in die Mooirivier gestort word. Hy het ook genoem van die verskeie kere wat hy probeer het om die rioolprobleem onder die aandag van die bestuur van die munisipaliteit te bring.

Hy het WhatsApp-boodskappe as bewys by die verslag ingedien. Moolman is ‘n lid van ‘n WhatsApp-groep, COVID-19 DMC Task Team, wat die munisipaliteit geskep het om kommunikasie tussen die verskillende rolspelers in die JB Marks Munisipaliteit te bevorder en om op Covid-19-aangeleenthede te reageer. Dié groep bestaan uit 67 lede wat die bestuur (waaronder die uitvoerende burgemeester, munisipale bestuurder en senior bestuurders) wat die JB Marks Munisipaliteit verteenwoordig.

Saterdag, 25 Julie het Moolman die vloei van die riool in die Mooirivier met die WhatsApp-groep gedeel, maar daar was geen reaksie nie. Teen 6 Augustus het hy weer die besoedeling onder die aandag van die WhatsApp-groep gebring, waarop die direkteur van tegniese dienste, Jack Monnakgothu, slegs gereageer het dat hy bewus is van die probleem.

Volgens Moolman het die munisipaliteit genoeg tyd gehad om op die klagtes te reageer en is hulle of opsetlik of nalatiglik verantwoordelik vir die besoedeling. “Lugfoto’s van ‘n hommeltuig wat deur die JB Marks Verbruikers en Belastingbetalersvereniging (JB Marks VBV) op 13 Augustus geneem is, wys duidelik die negatiewe impak wat die besoedeling op die omgewing rondom die Mooirivier het,” sê hy.

Verder voeg hy by dat die munisipale bestuurder as uitvoerende bestuurder van die munisipaliteit, verantwoordelik is en beskik oor die vermoë om self stappe te kon neem of die raad te vra vir magtiging om stappe te neem. “Hy is ook regtens aanspreeklik. Daar is sake waar die uitvoerende hoof van ‘n maatskappy vir besoedeling aangekla was en tronkstraf opgelê is waar dit gehandel het oor die besoedeling van die bekende Chrissiesmeer in Mpumalanga. Die polisie en/of Groen Skerpioene moet die klagte soos enige ander misdryf ondersoek. Op grond van die getuies van die ondersoek, sal die aanklaer besluit om vervolging in te stel,” sê Moolman.

Exit mobile version