CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Bekende in stad sterf weens Covid-19

'n Voormalige onderburgemeester en bekende in sakekringe in Potchefstroom, mnr. Dries Huisamen, is Dinsdag, 11 Augustus weens Covid-19 dood. Sy dood volg nadat sy kamermaat by Huis Eikelaan, mnr. Gerald Bezuidenhout, ook weens die virus beswyk het.

‘n Voormalige onderburgemeester en bekende in sakekringe in Potchefstroom, mnr. Dries Huisamen, is Dinsdag, 11 Augustus weens Covid-19 dood. Sy dood volg nadat sy kamermaat by Huis Eikelaan, mnr. Gerald Bezuidenhout, ook weens die virus beswyk het.

Mnr. Huisamen het vir 54 jaar, die grootste deel van sy lewe, in Potchefstroom gewoon en het as prokureur, onderburgemeester, burgemeester en administrateur van Ikageng ‘n belangrike bydrae tot die stad se bestuur gelewer.

As voorsitter van die feeskomitee wat in 1988 reëlings rondom die 150-jarige bestaan van die stad behartig het, het hy opnuut weer die aandag op die opwindende geskiedenis van Potchefstroom gevestig.

Sy lewe het ‘n wye draai gemaak voor hy hom uiteindelik hier kom vestig het.

Hy is op 11 September 1935 in Koekenaap gebore en is as Andries Herman Jacobus Huisamen gedoop.

Hy het aan die Weskus op die dorpie Vaalkrans aan die oewers van die Olifantsrivier grootgeword en het later sy skoolloopbaan op Lutzville voltooi.

Hy was met Didi du Toit getroud en hulle was bevoorreg om hul 50ste huweliksherdenking te vier voordat sy sewe maande daarna, in 2010, oorlede is. Saam het hulle twee dogters en twee seuns gehad – Bertus, Jaco, Ilze en Grethe. Sy kollegas onthou hom as ‘n sterk leier – baie beredeneerd en goed geartikuleerd, wat hard vir die gemeenskap gewerk het.

Wyle Didi en Dries Huisamen voor die stadsaal in die sestigerjare. Foto: Verskaf

Sy familie en kinders onthou weer sy goeie sin vir humor en sy liefde vir sy gesin en familie.

Mnr. Huisamen word oorleef deur sy vier kinders, vier skoonkinders, 10 kleinkinders en drie agterkleinkinders. Sy troosdiens is Maandag, 17 Augustus gehou.

Related Articles

Back to top button