Vyftienjarige tweede in gesogte skryfkompetisie

Hannia Kempen, ‘n leerling van The High School for Girls Potchefstroom, het tweede plek in die prosa-afdeling van die Poort-skryfkompetisie 2020 verwerf.

Jy het beslis skrywersbloed in jou are as jy al in graad-10 ‘n toekenning vir jou skryfkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) ontvang.

Hannia Kempen, ‘n leerling van The High School for Girls Potchefstroom, het verlede Vrydag die goeie nuus gekry dat sy ‘n tweede plek in die prosa-afdeling van die Poort-skryfkompetisie 2020 verwerf het. Dié kompetisie van die SAAWK word as een van Suid-Afrika se mees prestige skryfkompetisies gereken.

Hannia het reeds in Desember die verhaal, “Vlug”, geskryf wat sy in Februarie vir Poort voorgelê het. Vir haar prestasie word “Vlug” in die skryfbundel van Poort gepubliseer. Sy ontvang ook ‘n gratis skryfkursus van die Poort-slypskool wat volgende jaar in Bloemfontein aangebied word. Die Universiteit van die Vrystaat se department Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans en die fakulteit Geesteswetenskappe bied die kursus in samewerking met die SAAWK aan.

Hannia vertel dat haar ouers van kleins af vir haar stories gelees en haar aangemoedig het om ook stories te vertel. Albei haar ouers is joernaliste. Hoewel haar ma, Cornia Pretorius, nie meer skryf nie, is haar pa Willem Kempen ‘n vryskutjoernalis en skryf hy gereeld vir Vrye Weekblad. “Skryf is maar iets wat ons hele gesin geniet en aanmoedig,” sê Hannia wat reeds sedert graad-3 boekresensies op ‘n blog geskryf het toe sy nog in Mooirivier Laerskool was. Sy het meestal resensies geskryf van boeke wat sy gekoop het of wat NB-Uitgewers vir haar gestuur het. Tussen graad-6 en -7 het sy ‘n ruskansie geneem, maar sy het onlangs weer resensies begin oplaai (besoek gerus haar blog by https://pagesofepeolatry.blogspot.com).

Hannia lees wyd, maar bieg dat die realistiese drama haar na aan die hart lê. Van haar gunsteling boeke is Call Me By Your Name, Life of Pi, A Little Life en Dead Poets Society. “Ek is mal oor Donna Tartt, wat The Secret History, The Little Friend en The Goldfinch geskryf het.” Dié jong skrywer wat van uitdagings hou, sê van haar eie skryfwerk dis altyd lekker wanneer daar positiewe reaksie op ‘n storie is “… veral wanneer jy weet jy het hard daaraan gewerk.” Sy beveel aan dat jong skrywers aan kompetisies deelneem, want volgens haar verg dit ook oefening: “… hoe meer mens skryf, hoe beter skryf jy. My ma sê altyd dit is soos ‘n spier wat mens moet sterker maak deur dit te oefen.”

Hannia soek gereeld skryfkompetisies waaraan sy kan deelneem en noem ‘n paar op wat jong aspirant skrywers gerus kan dophou: “Daar is ‘n paar wat jaarliks plaasvind soos Poort, Woordfees-kompetisies en ‘n verskeidenheid LAPA-kompetisies.”

Sy is beslis iemand wat weet wat sy wil hê en het voorlopig besluit om sielkunde te studeer. Tog sluit sy dit nie heeltemaal uit om eendag ook ‘n skrywer te wees nie. Gelukkig is sy boonop vriendelik en mededeelsaam, want sy stem in om die storielyn van haar verhaal, “Vlug”, met almal te deel:

“Vlug” vertel die verhaal van ‘n meisie wat in ‘n restaurant by die lughawe sit. Terwyl sy vir haar vlug wag, kom daar ‘n vrou by haar aan wat om hulp pleit. Voordat sy egter kan uitvind wat fout is met die vrou, kom dié se man ook by die tafel sit.

Die man verduidelik dan aan die meisie dat hulle onlangs verloof geraak het en gesels heel vriendelik met haar. Tog pla iets aan die paartjie haar, maar sy kan nie juis haar vinger daarop sit nie. Later verlaat sy die tafel om iets vir die vrou te koop, maar die tafel is leeg wanneer sy terugkom. Sy aanvaar toe dat die twee hulle vlug moes haal en gaan dan self na haar vliegtuig. In haar sitplek begin sy deur ‘n koerant blaai en kom op ‘n berig af oor ‘n vrou wat vermis word. Sy sien dan dat die vrou in die koerant dieselfde vrou is wat deel was van die paartjie.

Exit mobile version