Local newsNewsNews

Potch Drift maak Promosa inwoners se harte bly

Ons by Potch Drift het besluit om skenkings te maak en pakkies benodigdhede bymekaar te maak en dit aan behoeftiges wat honger is, uit te deel

‘n Inisiatief van die gemeenskap vir die gemeenskap.

Dit is ‘n goeie manier om Potch Drift se nuwe en broodnodige liefdadigheidspoging in die Covid-19 tydperk op te som. Die manne van Potch Drift,  bekend vir hulle spinning byeenkomste, het onder leiding van voorsitter Sherwin Pienaar en ander in die span die afgelope drie weke kospakkies vir behoeftige mense in Promosa uitgedeel en hou steeds aan om ‘n verskil in Promosa te maak.

“Ons het gevoel dat die plaaslike raadslede baie beloftes maak om ons gemeenskap wat swaarkry te help, maar dit gebeur nie. Ons by Potch Drift het besluit om skenkings te maak en pakkies benodigdhede bymekaar te maak en dit aan behoeftiges wat honger is, uit te deel,” vertel Chad Pauls, sekretaris van Potch Drift.

Hierdie geskenkpakke sluit algemene benodigdhede soos kookolie, mieliepap, tandepasta en seep in.

“Dit is belangrik dat die gemeenskap bewus is dat daar mense is wat met amper niks moet klaarkom nie. Ons doelwit is nie polities van aard nie, ons wil net mense se bekommernisse ligter maak,” noem hy.

Potch Drift is tans besig met ‘n liefdadigheidsprojek waar hulle benodigthede vir die Promosa-gemeenskap insamel en uitdeel.

Potch Drift probeer om elke week op Vrydae skenkings uit te deel, maar omdat hulle die produkte uit hulle eie sakke koop en geskenkpakke opmaak, het hulle donasies nodig om die inisiatief verder voort te sit. “Dit is ‘n baie emosionele ervaring om die blydskap op mense se gesigte te sien. Daar is tot mense wat gehuil het uit waardering vir wat ons doen,” noem Pauls. Vir meer besonderhede en om ‘n bydrae te maak, kan Chad Pauls by 062 285 7798 of Shaun Pienaar by 084 801 1053 gekontak word.

Related Articles

Back to top button