‘Lockdown’ pret by Volkies

Dinsdag is ‘n kolwyntjie-kampioen gesoek, en Michayla Devenish het met haar fyn detail versiersel met die louere weggestap.

Na goeie samewerking, en baie ure se akademie met e-Volkie, het die hoof van Hoër Volkskool Potchefstroom, mnr. Terry Nicolenas, besluit om die leerders en personeel met ‘n e-Vakansie te beloon.

Die afgelope week is toe gebruik om die gees van die skool in hierdie moeilike tyd, hoog te hou, met daaglikse uitdagings. Leerders, ouers en oud-leerders is uitgenooi om aan hierdie prettige uitdagings deel te neem.

Die week is afgeskop met ‘n uitdaging om die hoogste toring in jou erf te bou. Die Volkieleerders het met vindingryke torings vorendag gekom. Die kompetisie is met ‘n 10.2m hoë toring deur Ingrid en Hendrik Scholtz gewen.

Dinsdag is ‘n kolwyntjie-kampioen gesoek, en Michayla Devenish het met haar fyn detail versiersel met die louere weggestap.

Woensdag kon leerders onnies naboots, en ‘n hele paar skreeusnaakse video’s het die beoordelaars lekker laat skaterlag. Maar Yentl en Cara Lamprecht het die koek gevat met hul nabootsing van mnr. Smit en me. Olivier.

Met Donderdag se Lipsing-kompetisie het leerders en oud-leerders groot gegaan met baie oorspronklike opnames.

Die wenner van die kompetisie was Malincke Botha met haar “lockdown”-video.

Vrydag was dit die sportliefhebbers se beurt om hul vaardighede met ‘n bal te wys. Dit was duidelik dat ure se oefening in hierdie kompetisie se voorbereiding ingegaan het.

Die wenner van die toor-met-‘n-bal-kompetisie was Lohard Janse van Rensburg met sy gholfstok en krieketkolf toertjie.

Wat die week verder opwindend gemaak het, was die daaglikse ZOOM fiksheidsessies saam met Werner Taljaard van Elite Fit. Die gewildheid hiervan het daartoe gelei dat Werner nou weekliks sulke fiksheidsessies aan die Volkie-gemeenskap bring.

Met hierdie afgelope week is die gees weer hoog, en is die personeel en leerders weer gemotiveerd om met hul akademie op e-Volkie voort te gaan.

Exit mobile version