NewsNews

NWU se nuwe veiligheidsmaatreëls rondom viruspandemie

Reses is vervroeg vanaf 17-29 Maart

Die NWU het gister (16 Maart) om 17:30 nuwe reëlings in plek gestel rondom die Koronavirus pandemie.

Volgens die kommunikasie-afdeling van die NWU, is die reses wat oorspronklik vanaf 23 tot 29 Maart sou duur, nou vervroeg na 17 tot 29 Maart. Studente is nie verplig om op die 30ste Maart na die kampus terug te keer nie, maar klasse sal aanlyn vanaf 30 Maart – 30 April aangebied word. Koshuise sal nie sluit nie en studente kan self besluit of hulle gedurende die reses of daarna op die kampus wil bly.

Praktiese sessies wat vir April geskeduleer is, word uitgestel. Slegs nagraadse laboratoriumwerk vir navorsingsdoeleindes sal voortgaan soos voorheen asook die noodsaaklike dienste op die kampus. Studente word aangeraai om hulle dekane vir akademiese navrae te kontak.

Alle sportbyeenkomste, sosiale samekomste, vergaderings en alle akademiese funksies soos gradeplegtighede en intreeredes word uitgestel.

Amptelike oorsese reise moet vermy word en moet eers goedgekeur word deur die Interanasionale Reiskomitee. Personeel en studente wat in ‘n private hoedanigheid oorsee reis, moet vooraf by die kampus se Sentrum vir Beroepsgesondheid aanmeld. Met hulle terugkeer moet hulle per epos by dr. Emil Kotze nwu-covid19@nwu.ac.za aanmeld. Hulle mag glad nie terugkeer kampus toe sonder 14 dae privaat kwarentyn nie. Die Sentrum vir Beroepsgesondheid moet ook eers sertifiseer voordat hulle mag terugkeer op die kampus.

Vir die nuutste verwikkelinge rondom die NWU se veiligheidsmaatreëls insake die koronavirus, besoek gerus hul webadres https://www.nwu.ac.za/coronavirus.

Related Articles

Back to top button