NewsNews

Mismoedig na Joolterugslae? Wat wou!

Die reeks ongelukkige gebeure tydens Jool het beslis die beste eienskappe van die NWU studente en personeel na vore gebring.

Jool het oudergewoonte hierdie jaar met ‘n groot lawaai afgeskop. Anders as tevore was harde musiek en luidrugtige studente nie deel van die lawaai nie. ‘n Skielike storm met weerlig, swaar reën en sterk wind het nie alleen vir groot lawaai gesorg nie, maar was die begin van ‘n reeks ongelukkige gebeure wat Jool vir die eerste keer in 53 jaar getref het.

Volgens ‘n woordvoerder van die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus, Bertie Jacobs, het die storm skade aan die klankverhoog gebring, twee feestente het inmekaar gesak, nege studente is lig beseer en ongeveer 4 000 studente het die Joolplaas in net meer as 30 minute ontruim om verdere beserings te voorkom. Donderdagaand se konsert is gekanselleer.

Maar dit was nie die einde nie. Die volgende dag volg ‘n tweede ramp toe ‘n voertuig van Fireworks for Africa, met Vrydagaand se vuurwerke, om 11:30 ontplof. Die kombinasie van hoë humiditeit en statiese elektrisiteit was hiervoor verantwoordelik.

Hoewel Vrydagaand se konsert wel plaasgevind het, het die konsternasie van die storm gesorg dat die veiligheidsklarings vir die vlotoptog nie betyds uitgereik kon word nie. Die gewilde jaarlikse vlotoptog deur die stad kon dus nie plaasvind nie en hiermee het die derde terugslag Jool se reeks ongelukkige gebeure tot ‘n einde gebring.

Behalwe vir reën het die noodlot nog nooit voorheen so ‘n groot aandeel in die geskiedenis van Jool gehad nie. Maar, moedeloosheid was allesbehalwe deel van die studente en NWU-personeel se gesindheid. Hulle het as’t ware die Romeinse filosoof, Epictetus, se wyse woorde hulle eie gemaak: “Dit is nie wat met jou gebeur wat tel nie, maar eerder hoe jy daarop reageer.”

Die voorsitter van die kampus studenteraad (KSR), Heinz Schoeman-Struwig, het almal weer eens bewus gemaak van die goeie sisteme van die NWU wat in plek is en het sy dank uitgespreek teenoor die verskillende dienste op die kampus wat hulp verleen het. “Die mense saam met wie ons werk, is só bekwaam in wat hulle doen en hulle het soveel leierskap tydens die Jool-naweek getoon dat ons nie met Jool sou kon voortgaan sonder hulle nie.” Mense wat betrokke was tydens die krisistyd was die NWU se nooddienste, ER24, Corrie Rheeder (direkteur, studentelewe) en haar kantoor, die KSR en Jool KSR, Beskermingsdienste, die Gesondheidsentrum en al die koshuise wat onmiddellik hulle hulp aangebied het.

Die bestuur van die Joolkomitee en koshuise het saamgespan om steeds vir die publiek die vlotstrukture te wys waaraan almal so hard gewerk het. Die vlotte sal Saterdag, 15 Februarie van 09:00 – 13:00 by die Mooirivier Mall uitgestal word.

Dit blyk dat die reeks ongelukkige gebeure beslis die beste eienskappe van die studente na vore gebring het. “Ons het getoon dat ons aanpasbaar is. Ons het gewys dat dit meer as ‘n storm sal kos om ons moedeloos te maak”, sê Heinz.

Related Articles

Back to top button