EntertainmentNewsNews

Kamphoer – ‘n tydlose toneelstuk

Kamphoer is die idiale verhoogstuk om vanjaar die 120 jarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog te vier, maar is nog meer gepas vir die era waarin ons nou leef.

Die eenvrouvertoning, Kamphoer is gebaseer op die ware verhaal van Susan Nell wat as ‘n jong meisie in die Winburg konsentrasiekamp gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur twee Britse soldate en ‘n joiner verkrag en vir dood agtergelaat word.

Sy oorleef die aanval danksy twee Sotho’s wat haar in ‘n grot versorg en vertrek jare daarna Nederland toe waar sy opleiding as ‘n psigiatriese verpleegster ontvang. Wanneer sy later in Engeland in ‘n psigiatriese hospitaal soldate versorg wat aan bomskok lei, ontmoet sy weer haar verkragter wat haar met haar hartseer verlede konfronteer.

Dié toneelstuk is op die debuutroman van Francois Smit gebaseer – ‘n verhaal wat hy op sy beurt weer van Nico Moolman gekry het.

Om ‘n boek in ‘n verhoogstuk te verwerk is nie ‘n maklike taak nie. Cecilia du Toit het goed daarin geslaag om die kern van die verhaal vas te vang sonder om die poëtiese beskrywings van Smit in te boet. Sandra Prinsloo het ook maklik daarin geslaag om met haar boeiende spel en stemkwaliteit die hoofkarakter van tienermeisie tot sewentigjarige uit te beeld.

Die dekor en byklanke verdien ook ‘n spesiale pluimpie. Die verflenterde tent wat die fokuspunt van die dekor vorm, is só simbolies van die konsentrasiekamp, terwyl die tasse met die klippe weer die swaar emosies van die hoofkarakter simboliseer. Hoewel die byklanke subtiel was, sal ek nooit die klank van vuur en die gepaardgaande geel beligting met die verskroeide aarde voorstelling vergeet nie.

Kamphoer is die idiale verhoogstuk om vanjaar die 120 jarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog te vier, maar is nog meer gepas vir die era waarin ons nou leef. Dink maar aan die vrouens wat met die Me Too Movement besluit het om teen seksuele geweld op te staan.

Indien jy nog nie ‘n kaartjie vir Kamphoer gekoop het nie, boek gerus een vir die ekstra vertoning op Saterdag, 28 Oktober om 20:00.

Related Articles

Back to top button